Ten spyte van hoe wonderlik God ons geskep het,
met die vermoë van ‘n selfbewussyn, om te kies en
lief te hê...het ons selfliefde allesoorheersend geraak!
Martin Luther het by geleentheid gesê die wese van
die sondeval is dat die mens volkome op homself gerig
geraak het, selfsugtig geraak het, en dat ons nou van
nature totaal op onsself ingekeer is. Die sonde wil altyd
die eie ek in die heersersposisie in die lewe sien. Dit wil
alles laat inval by eiebelang en begeerte. Almal, tot die
naaste mense aan my, moet eintlik mý dien. Dinge in die
lewe moet sentreer rondom my prestige, sukses, geluk,
en besittings. Selfs my gebede raak selfgerig.
Hoe allesoorheersend is ons selfliefde!

Ons selfbeheptheid maak ons uiteindelik nie gelukkig nie!
Dit is die ironie! Inteendeel, selfgerigte mense is ten diepste
ongelukkige mense. Paulus moes hieroor benoud uitroep:
“Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan
verlos?”- Romeine 7:24.

Om vervuld en sinvol mens te wees kom eers na jou toe as jy
begin leef vir ander. Wanneer jy leer om “ons” te dink en te
doen en nie “ek” nie. Ons!...almal van ons, moet elke dag gaan
leef vir ander, en nie net werk en werf vir jouself nie.
Beteken “iets” vir iemand, en beleef en sien hoe word jy self
mens! Dankbare méns. Vervuld in jou menswees. Jy beleef
blydskap in jou menswees.

Natuurlik is dit nie maklik in ons wêreld waarin almal selfgerig
en selfsugtig is nie. Ons sal teen die stroom van die wêreld gaan
leef. Maar is dit nie wie ons is nie! Verteenwoordigers van God
in hierdie wêreld. Dit gaan ook in die begin lynreg in teen ons eie
gryn en ego. En mense sal ons waarskynlik ook dikwels misbruik.
Daarom moet ons dit “leer” doen, onder leiding van die Heilige Gees.
Ons kan dit ook doen met die wete dat God sy eie “Ek”, Jesus Christus,
totaal aan ons gegee het aan die kruis! Dit het Hy gedoen sodat ons
kan ophou gryp, en begin gee.

Ernest