Christene treë ongelukkig dikwels op soos verkleurmannetjies.
Hulle kamoefleer so maklik in die wêreld waarin hulle leef dat
hulle nie maklik raakgesien word nie. Hulle smelt in by hulle
omgewing, soos verkleurmannetjies.
Jy sien hulle, en tog ook nie...
Ongelukkig treë Christene dikwels so op. Jy sou nooit kon raai
dat hulle anders as hulle omgewing is, of behoort te wees nie.
Hulle lyk nes die ander mense wat nie-Christene is.
Hulle geloofsbelydenis word nie in die openbaar uitgeleef nie.
Hulle doen nie wat hulle bely nie, en smelt eerder saam met
die res.
Ons moet weer opnuut onthou dat geloof in Christus ‘n
openbare aangeleentheid is, en nie ‘n persoonlike oortuiging
net in die binnekamer of die kerk nie.
Christene moet uit-staande mense wees. Daar moet nie
onsekerheid bestaan oor Wie ons Here en ons God is nie.
Ons moet ons daarop voorberei om dit daagliks met
geloofsoortuiging uit te leef. Wanneer jy jou kruis opneem
en Jesus volg, kan jy dit nie in kamoefleer-drag doen nie.
‘n Kruis-Christen kan nie ‘n kamoefleer-Christen wees nie.
Ons is die lig vir die wêreld. Ook sout en suurdeeg.
“’n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer
nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die
huis.” – Matteus 5:14-15.
Wie in Jesus Christus glo, word sigbaar!
‘n Christen se kleur is dié van lig. God se lig!
Ernest