Ons is voortdurend afhanklik van God,
en die Woord van God vir alles! God bied aan
ons ‘n onuitputlike bron van rykdom en lewe
deur die Woord. In werklikheid is die totale
lewensstyl van die gelowige dié van ‘n bedelaar.

‘n Paar dae voor sy dood skryf Martin Luther op
‘n papiertjie: “Ons is bedelaars. Dit is waar.
16 Februarie, 1564.”
Daar is nie so iets soos geloofshelde nie.
Net geloofs-bedelaars. Geloof is maar net die leë hand
waarmee ek ontvang wat God my voortdurend wil gee.
As bedelaar in die geloof kan ek maar net sê:
“Ek glo...help my in my ongeloof.” – Markus 9:24.

Geloof as sodanig het geen krag nie. Ja, jy het reg gelees.
‘n Mens kan nooit in jou “eie” geloof glo nie. Geloof is gerig
op God, en dit kom ook van God. Geloof is afhanklik van God,
en dit gaan op in God. Geloof is ‘n gawe van God, deur die
Heilige Gees. 2 Kor. 4:13: “...Ons het dieselfde Gees wat die
geloof wek, en ons glo...”

Die wonder is: As ons soos bedelaars voor God kom staan,
laat Hy ons nooit met leë hande weggaan nie. Hy vul ons met
sy goedheid. Hy stort sy genade in oorvloed oor ons. Ons staan
telkens verbaas met die besef: Ek is ‘n Koningskind! Skatryk!
Al wat God van ons “vra”, is om regtig op te hou probeer.

Hou op probeer! Baie mense, goeie mense, probeer juis te hard
om “opreg” te glo, sterk te glo. In die proses word hulle nooit
bedelaars met leë hande voor God nie. Niemand kan ooit
“goed genoeg” glo nie. Ons kan nie God met geloof beïndruk nie.
Ook, en veral, ons geloof is genade van God aan ons.
God doen regtig alles! Hy help ons nie net met die laaste tree nie.
Enige een van ons kan gelukkig as bedelaars kwalifiseer.
Juis omdat God geen kwalifikasies vra nie. Niemand is te “sleg”
om te glo nie. “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle
van God is...” Ons is geloofs-bedelaars.

Ernest