“In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God,
en die Woord was self God” – Johannes 1:1.
In hierdie maand dink ons veral oor die geboorte van Christus
en betekenis daarvan vir die hele skepping! Op pad na die
Christusfees, Kersfees, is die vraag onder andere waar dit alles
begin het?
Elke menselewe begin iewers. Dit begin ook nie net eers op die
dag van geboorte nie. Daar is baie verskil oor die presiese
biologiese beginpunt van lewe. Die meeste Christene sien die
oomblik van bevrugting as die wonderlike moment wanneer
‘n nuwe mens deur God in die lewe geroep word. Dit is toe jou
lewensweg op aarde begin het.
Die geboorte van Jesus was in sekere opsigte ook so. Die proses
van bevrugting, groei in die baarmoeder en geboorte het ook in
Jesus se geval eg menslik verloop. En tog was dit geheel en al
anders. Die eniggebore Seun van God het geen beginpunt gehad
nie. Hy was van ewigheid by God, en is self God. Johannes probeer
iets daarvan beskryf in Johannes 1:1-2: “In die begin was die Woord
daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was
reeds in die begin by God.”
‘n Pasgebore kindjie het nog geen verlede nie. Daar is egter een Kind
wat van ewigheid af ‘n verlede het, voor Sy geboorte. Jesus!
Hierdie verlede is die heerlikheid by sy Vader. Die Skepper van die
hemel en die aarde! En tog het hierdie Kind nooit in die werklikheid
van die sondige wêreld gesê: “Het Ek maar by die Vader gebly nie...”
of “Was ek maar nog in daardie heerlikheid...” nie.
Die rede:
Die Middelaar tussen God en mens moes werklik volkome méns wees
om vir die méns se sonde te kon betaal.
Die Middelaar moes sonder sonde wees, en nie onderhewig aan straf
op die sonde wees nie, om vir die mens skuld van sonde te kon betaal.
Die Middelaar moes waarlik God wees, om ook God met die mens te
kon versoen, en nie net die mens met God nie.
Die straf op die sonde van die hele mensdom is ondenkbaar verskriklik.
Om dit te kan betaal, verg die krag van God. Net God kan dit doen.
Jesaja 9:5 beklemtoon dit: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun
gegee: Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman,
Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”
Dié Kind, die ewige God self, wou uit eie wil ware mens word.
Mens soos ek. Mens vir my. Onbegryplik! Wonderlik!
God se redding vir elkeen wat glo! Amen!
Ernest