Wat is die waarheid?

In Bybelse terme is die vraag eerder: “Wie is die waarheid?”

Jesus Christus was nie die enigste groot geestelike leier wat

op aarde geleef het nie. Dink maar aan Boeddha. Miljoene

mense het hom aangehang, en doen dit vandag nog. Aan die

einde van sy lewe kon hy slegs sê: “My leringe wys die weg

aan om die waarheid te vind.” Ook die profeet Mohammed

se aanhangers tel deur die eeue en vandag nog in die miljoene.

Hy het gesê: “Die waarheid is aan my geopenbaar.” Die wyse

mense van die wêreld stem saam dat daar maar één waarheid is,

maar hulle praat op verskillende maniere daaroor.

Jesus Christus het nie net oor die waarheid gepraat nie. Hy het nie

maar net saam met ander wyses daarna gesoek nie...

Hy is die Waarheid, met ‘n hoofletter, in die diepste sin van die woord.

Kort voordat Hy vir die verlossing van mense aan die kruis sou sterf,

het Hy in Johannes 14:6 gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”

Die Christelike geloof is nie gegrond op ‘n stelsel van geestelike waardes

nie, ook nie op geestelike wette en voorskrifte nie. Dit is inderdaad uniek

omdat dit gegrond is op en in ‘n Persoon! Jesus Christus die Here!

Om die Christelike geloof te bely beteken nie om ‘n aantal geestelike

waarhede aan te hang nie. Dit is om kennis te hê van dié Waarheid,

Hóm in geloof te bely as Verlosser en Here, en in lewende verhouding

met Hom te leef. Dit is nie bloot om ‘n ideaal na te jaag soos “om hemel

toe te gaan nie”. Dit is om in dankbaarheid en blydskap te leef oor die

werklikheid van jou verlossing in Hom!

Dit alles is slegs moontlik omdat Jesus self ook God is, ja, die eniggebore

Seun van God! Alles wat ons dink, alles wat ons hoop, alles wat ons leef,

is nou gegrond in Hom as Persoon. Hy is ons Here en ons God. Dit is die

een sentrale ware hoop vir die mens! Die middelpunt van die evangelie

boodskap is ‘n Persoon wat na hierdie wêreld toe gekom het, en nie

allerhande geestelike wette en voorskrifte wat ons moet uitleef nie.

Is jy in ‘n lewende verhouding met hierdie Persoon,

omdat jy Hom bely, en jou verhouding met Hom uitleef, naamlik dat

Hý jou Here en God is?

Ernest