Die geboorte van Jesus is God én mens in ‘n krip!
Ons bely dat Jesus “...ontvang is van die Heilige Gees...”.
Dit beklemtoon net weer die Godheid van Jesus Christus.
Dit bly ‘n misterie bo alle misteries. Ons sal dit nooit ten
volle kan verklaar of verstaan nie. Dit is bokant ons begrip
en kan net in geloof bely word, want vir God is niks
onmoontlik nie! – Lukas 1:37.

Dit dring ons, net soos vir Maria, tot aanbidding.
Want wie is dit wat gebore is uit die maagd Maria?
“Die-Seun-van-God-in-die-menslike-natuur”, sê Van Ruler.
Menslik gesproke is die gebeure ook nie “logies” nie. Hoe kan
twee sake wat mekaar geheel en al uitsluit - naamlik God en
mens – in één Persoon verbind word, en nog steeds waarlik
albei bly? Tog is dit presies wat gebeur het! Vir God is niks
onmoontlik nie! Dit beklemtoon ook God se liefde en genade
vir die mens.

Karl Barth het dit so probeer verduidelik: “God het gebly wat
Hy was, naamlik waarlik God; en toe geword wat Hy nie was nie,
naamlik waarlik mens.” God doen dit in sy liefde en genade ter
wille van die redding van die mens! Net God self kan dit immers
doen!

Op hierdie wonder van God kan ons net reageer met bewondering
en lof en aanbidding! Dit is iets wat die sterrekykers uit die Ooste
reeds gesnap het. Matteus 2:11 sê “...hulle het gekniel en aan Hom
hulde bewys.” Hulle is nogal heidene wat nie tot die volk Israel
behoort het nie. Hulle het die Kind saam met Maria gesien en geen
vrae gevra nie. Hulle het net gekniel en aan Hom hulde bewys.
Oor hierdie wonder – God en mens in ‘n krip – het hulle nie probeer
filosofeer nie. Hulle het, as sterrekyker “wetenskaplikes” dit ook nie
probeer verklaar nie. Hulle het hulle net verbly.

Sal óns wat glo ons nie buitengewoon hieroor verbly nie!
Ons kan nie anders nie! Ons aanbidding van Jesus is sonder grense.
Ons kan net onsself “gee” as geskenke by die Christusfees!

Ernest