Geen mens word uit eie vrye wil op aarde gebore nie.
Ons het nie besluit om gebore te word nie. Ons het self
geen beheer daaroor gehad nie. Ons ouers uiteindelik
ook nie. Elke geboorte bly ‘n wonderwerk van God.

Daar is egter Een wat uit eie vrye wil gebore is, wat ook
vooraf geweet het hoe hierdie wêreld lyk waarin Hy
gebore sou word. Hy het presies geweet waarvoor Hy
die hemelse heerlikheid prysgee om na die aarde te kom!
Hy het geweet dat Hy meer as net ‘n tragiese lewe sou lei.
Hy sou ook intens ly! Hy sou die somtotaal van die mens se
ellende moes dra. Kortom: Hy het geweet waar Hy vandaan
kom en waarheen Hy sou teruggaan.
Jesus sê in Johannes 8:14: “Ek weet waar Ek vandaan gekom
het en waarheen Ek teruggaan.”

En tog was Hy gewillig om daarvoor gebore te word! Vir mý!
Paulus stel dit so treffend is Filippense 2:6-8: “Hy wat in die
gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie
beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy
het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te
neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn
het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot
in die dood, ja, die dood aan die kruis.”

Dit was nie net die sterrekykers wat ervaar het dat daar maar
een manier is om op die geboorte van Jesus te reageer nie.
Ook Josef en Maria reageer met lof en aanbidding. En ná hulle,
en tot vandag toe is dit die reaksie van mense wat enigsins
begryp wat die betekenis van die koms van Jesus na die
wêreld is. Jy kan nie neutraal teenoor hierdie Kind bly nie.

Wanneer jy “by die krip staan” en iets besef van Wie en wat
God vir die wêreld gegee het, pak ‘n roekelose vrygewigheid jou,
en dit laat jou álles gee,...en uiteindelik gee jy ook jou totale sélf!

Ernest