Lukas 2:1 vertel van die tyd in die geskiedenis waarin
die geboorte van Jesus plaasvind: “In daardie tyd het
keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig dat ‘n volkstelling
in die hele ryk gehou moet word.”
Met die eerste oogopslag kan ‘n mens dink dat die geboorte
van Jesus bloot deel is van die geskiedenis. Lukas wys juis ook
hier op die historiese aard van die gebeure, en dit beklemtoon
ook Jesus se geboorte as historiese feit. Die een na die ander
vloei die name in Lukas 2:1-20: Augustus, Sirenius, Sirië, Nasaret
in Galilea, Judea, Betlehem, stad van Dawid...
Oënskynlik lyk dit of keiser Augustus die septer swaai en besluit
wat gebeur. Het hy die laaste sê? Nee! Die geskiedenis behoort
aan niemand nie, behalwe aan God. Daar is ‘n Engelse gesegde
wat iets sê soos: “History is His-story”. Die geskiedenis word deur
God beheer. Ver bo Augustus se troon is God se troon. Bo Augustus
se woord is God se Woord. In die wêreldgebeure is God aan die werk.
Tydens die volkstelling is dit ook die volheid van die tyd waarin
Christus sou kom. Die Kers-gebeure is menslik maar ook bo-menslik.
Bonatuurlik. Histories, maar ook bo-histories. Aards, maar ook hemels!
Dit geld ook ons lewens as volgelinge van Christus. Moontlik voel jy ook
van tyd tot tyd dat jou lewe bloot op ‘n historiese vlak verloop. Jy leef
nou maar binne die 20e en 21e eeu. Dit is binne hierdie geslote skakels
van die geskiedenis waarin jy vasgevang is...
Onthou dan: Jesus het die geskiedenis onherroeplik verander.
En daarmee het Hy ook jou bestaans-geskiedenis onherroeplik verander.
Hy het kom bevestig dat God voortgaan met die hemel en die aarde na
‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. En God gaan ook met jou voort tot in
ewigheid! Moenie net horisontaal leef nie. Jy is nie net bloot deel van
die geskiedenis nie. Bly ingeskakel na Bo!
Ernest.