Ons “dra” die kersseisoen met liggies, stralekranse, trompette,
kersfees-geskenke, groot etes, oordadige kommersialisering...
Die Bybelse verhaal van die geboorte van Christus is egter
somber en eenvoudig. Lukas 2:7 beskryf dit so:
“Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in
doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle
geen plek in die herberg was nie.”

Dit klink so gewoon. So realisties. Dit is juis hoe dit was!
Dit was ‘n doodgewone baba, in ‘n krip neergelê.
Martin Luther skryf aangrypend oor die aardsheid van Jesus
se geboorte: “Hy was nie ‘n spook nie, maar het onder mense
gewoon. Hy het oë, ore, mond, neus, bors, lyf, hande en voete
gehad, net soos jy en ek. Hy het as baba melk gesuig,
as grootmens geëet en gedrink, het toornig geword, en gebid,
getreur, geween.”

Daar is te veel stralekranse, liggies en geraas met Kersfeestyd.
As ons dié nag in die herberg was, waar Jesus naby ons in ‘n stal
gebore is, sou ons die volgende oggend niks buitengewoons
opgemerk het van wat die vorige nag gebeur het nie.
Jesus is gebore net soos ‘n mens. Soos ‘n gewone kind.

Juis daarom verstaan Hy mense. Hy verstaan jou en my ten diepste.
Hy ken en deurgrond ons. Hy weet alles van menswees, en ook
menswees se swaarkry. Hy weet alles van jou en my.
Hy is die Seun van God, wat mens geword het.
“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon...”
– Johannes 1:14.

Ons kla so dikwels oor die sleur van die gewone lewe.
So asof die lewe niks nuuts en wonderlik meer vir ons inhou nie.
Vra die Here om jou oë oop te maak om Hom in die lewe raak te
sien, jou ore oop te maak om Hom te hoor, en jou daagliks die
belewenis te gee van die werklikheid van sy teenwoordigheid
by jou, in jou hele lewe!

Ernest