Het ons nie te gewoond geraak aan die evangelie-
boodskap nie? Dit is vir ons “oorbekend” dat God mens
geword het en onder ons kom woon het. Ons besef nie
meer die groot heerlikheid daarvan nie. Ons dink selde
daaraan dat God ons net sowel aan ons eie ellende-lot
kon oorlaat! Die sonde en die skuld waarin ons verval
het, is immers geheel en al ons eie skuld! Ons het dit
vierkantig oor onsself gebring.
Nou sê Johannes 1:14: “Ons het sy heerlikheid gesien,
die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die
Vader het, vol genade en waarheid.”
Sören Kierkegaard, die bekende filosoof-teoloog,
het klem gelê op die oneindige kwalitatiewe onderskeid
tussen ons en God. God is alles wat ons nie is nie. Ons is
alles wat God nie is nie. God is weergaloos. Ons is nietig.
God kan met niks of niemand in die hemel of op die aarde
vergelyk word nie. God is bo tyd, ruimte, materie. God het
letterlik uit niks, alles geskep. Die heel eerste vers in die
Bybel vra al hierdie geloofsprong van jou! Daarom noem
teoloë tereg vir God die “Gans Anderse”!
Nou besluit God self om ‘n mens te word!...ter wille
daarvan om ons met Hom te versoen. Hy word tasbaar,
sigbaar, hoorbaar, soveel só dat Johannes sê:
“Ons het sy heerlikheid gesien...”
Waarom doen Hy dit alles? Waarom oorbrug God die
menslik onoorbrugbare kloof tussen ons en Hom?
Die antwoord hierop is tegelyk só diepsinnig dat teoloë
worstel om dit te begryp, en tog ook só eenvoudig dat
die kleinste kindjie dit kan aangryp! God se enigste “rede”
om mens te word, is sy liefde vir ons!
Hy wou ons nie verlore laat gaan nie. Daarvoor het Hy die
kroon van sy skepping te lief. Ons is die enigste skepsels
wat doelbewus kan kies om God se liefde te beantwoord
met wederliefde.
Wat ‘n boodskap en werklikheid is dit nie!
God se enigste “rede” om mens te word,
is sy liefde vir jóú!
Ernest