Genade is ‘n vrye gawe van God! Glo dit!
Dit is die diepste rede waarvoor Jesus gebore is.
Omdat God mense liefhet en hulle uit genade wil red!

Ons sukkel om dit in die Westerse kultuur te begryp en
daaraan gewoond te raak. Ons bly dit bevraagteken.
In ons Westerse kultuur wil ons vir alles wat ons ontvang
‘n teenprestasie lewer. Niks is verniet nie. Alles het ‘n prys.
Jy moet werk en betaal vir alles. Jy ry nie eers ‘n hysbak
verniet nie. Die sentrum waarin jy is sal dit op een of ander
manier van jou verhaal met wat jy daar koop.

Nou sukkel ons om dit te aanvaar dat genade verniet is!
‘n Vrye gawe van God wat letterlik niks kos nie. Jy kan dit
ook nie koop of betaal nie, al het jy al die geld in die wêreld
gehad, en al wou jy! God se genade is ‘n geskenk aan ons.
Jy kan dit nie verdien of verwerf nie! Hy gee eenvoudig sy
Seun, in sy Goddelike liefde en genade, as ‘n vrye gawe om
ons van ons sonde te verlos! Dit gaan in die geboorte van
Jesus om God se liefde en genade! Net dit, en dit is álles!

Sosiologie studente het eenkeer ‘n proefneming gedoen.
Hulle het ware R50 note uitgedeel op straat. Min mense
wou dit neem! Die meeste het nie die vrye gawe daarvan
vertrou nie! Hulle het gedink dit is vals note, óf daar is ‘n
ander vangplek daarin, en hulle gaan hulle nie laat vang nie.
Dit kan eenvoudig nie net verniet wees nie!

Dit is ook die ongemaklikheid met die geboorte van Jesus:
dit is te goed om waar te wees dat genade ‘n vrye gawe is
van God. Ons het opgefoeter...ons moet dit self regstel.
Ons vertrou nie hierdie ding van genade nie, en buitendien
gaan dit teen ons trotse en hoogmoedige grein in dat ons
moet aanvaar dat óns God se geskenk so bitter nodig het...
Ons staan voor niemand bakhand nie...So dink mense.

Glo vandag die beste nuus van alle tye! Ware nuus!
Waarheid! Evangelie! Vrye gawe van God Self!
Dit lees swart op wit só: “God het die wêreld so liefgehad
dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo,
nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Johannes 3:16.

Ernest