“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon...”
Johannes 1:14.
Hierdie vers sê soveel meer as wat dit op die oog af lyk!
God is vír die lewe! Hy ag dit kosbaar en heilig. God is die
Skepper en Gewer van lewe. Hy gee lewe, onderhou dit,
koester dit. God het vreugde in mense se lewens. Hy geniet
mense se samesyn, kinders se lag, mense se menswees...
Hy geniet ook en verlustig Hom in die klank van diere, voëls
wat sing, die gesuis van die wind en die golwe daarvan deur
grasvlaktes, die breek van branders op die see...
God het vreugde aan lewe!
God het behae in die lewe wat Hy geskep het.
Lewe in die skepping. Vir God gaan dit om lewe!
Lewe hier en nou. En ook ewige lewe. Nuwe hemel en nuwe
aarde. Lewe! God het ‘n onuitblusbare Lewenslus!
Johannes 1:14 is God se JA vir die lewe! Nêrens hoor ons dit
of sien ons dit duideliker as in God se Woord nie. Daar sien
en hoor ons God se hart klop vir die wêreld. In ‘n baba, in ‘n
krip in Betlehem. Daar beaam God die sin van die lewe, daar
onderstreep Hy dit, want “die Woord het mens geword en
onder ons kom woon.”
Die geboorte van die Seun van God gee ons hoop, moed vir
die lewe, vul ons bestaan met betekenis, en maak ons vreugde
volkome. Jesus het self by geleentheid gesê: “Dit sê Ek vir julle
sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome
kan wees.” – Johannes 15:11.
Die geboorte van die Seun van God gee ons lewenslus weer
terug aan ons! Jesus kom maak ons vreugde weer volkome,
ten spyte van die sonde wat alles op aarde op die verskriklikste
wyse aantas!
God laat Hom deur niks keer nie. Niks kan God keer om lewe
te gee nie. God se Lewenslus brand te sterk! Juis daarom het
God sy Seun gestuur: Om lewe in die oortreffende trap te bring.
Ware lewe! Ons kan daarom opstaan van selfs die laagste trap
in die lewe waarop ons nou sit...opstaan en lewe!
Saam met Jesus! Vir Jesus! Vir ewig!
Ernest