“As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers,
die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,
wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind
dat U na hom omsien?” – Psalm 8:4-5.

‘n Sterrekundige het ‘n lesing oor die grootheid van die
heelal gelewer. Asemrowende feite is genoem! Afstande,
planete, sterrestelsels, ligjare, ‘n Heelal wat steeds uitdy!
Wat aanhou groei en groei. En dan die feit dat ons planeet
aarde eintlik maar ‘n onbenullige spikkeltjie daarin is!
Na die lesing het iemand aan die sterrekundige gevra of
hy regtig glo dat God omgee, vir só ‘n klein en onbenullige
spikkeltjie-planeet in die heelal? En meer nog, of hy regtig
glo dat God aandag skenk aan die onbenullige klein spikkeltjie
mense op aarde? Die sterrekundige het geantwoord:
“Dít,...hang nie af van die grootte van die heelal nie,
maar van die grootheid van God!”

Die sterrekundige was ‘n gelowige. Hy het geweet dat God,
juis omdat Hy so groot is, ‘n oog het vir die kleinste!
Ons planeet én ons is maar nietig klein. Skaars waarneembaar
in die omvang van die heelal. Geheel en al verdwerg deur
biljoene sterre en sterrestelsels. Massas materie, sonnestelsels.

En tog kom God na hierdie planeet! Want op hierdie planeet
is die kroon van sy skepping. Die mens vir wie Hy só lief is.
Met die geboorte van Jesus was Hy gewillig om een van die
mensespikkels op die aardbol te word!
Die Psalmskrywer is al in verwondering oor die feit dat God
aan die mens dink en na hom omsien! Hoeveel te meer nie óns
wat weet van die geboorte van Jesus en God se koms na die
wêreld nie! Hoeveel meer moet ons nie in verwondering hieroor
leef nie! Ons kan net saam met Psalm 8 verse 4-5 uitroep van
verwondering!

Niks...die mens is eintlik niks en nietig klein. En tóg!
Ons God is só groot! Hy wat sy arms vou om die heelal,
het in Jesus in ‘n krip in ‘n moeder se arms kom lê...
Dit laat ons dink aan die gebed: “Here Jesus,
ek is ‘n spikkeltjie in die heelal, vol groot sonde.
Dankie dat U ook ‘n klein mense-spikkeltjie geword het,
maar vol groot genade! My Here en my God...U is só groot.”

Ernest