God sien jou regtig raak. Iemand het gesê:
“God kan nie sy oë van ons afhou nie.” Dit is inderdaad
so dat God ons elkeen raaksien in sy liefde en genade.
Sy blik verander my van ‘n massamens in ‘n Koningskind!
Maria moes dit intens ervaar het as jong meisie wat die
moeder van Jesus geword het. Daarom sing sy ‘n loflied
tot God: “...Ek besing die grootheid van die Here, ek juig
oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid
omgesien het...” – Lukas 1:46-48. Dit klink “ongelooflik”,
maar dit is waar. God sien ook na jou om in jou geringheid!
In Christus is God by ons. Matteus 1:23: “Die maagd sal
swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal
Hom Immanuel noem”. Die Naam beteken God by ons”.
Die Hebreër skrywer beklemtoon dit nog verder in hoe ‘n
mate Hy God by ons is:
Hy ken self die versoeking waarin ons kom. Hy sien ons raak,
ook en veral in ons bestaans-krisisse. Hy het medelye met ons
swakhede. In sy lewe op aarde is Hy, net soos ons, in elke opsig
aan versoeking onderwerp. Die verskil is net dat Hy nie gesondig
het nie. Hebreërs 4:14-16: “Hy was immers in elke opsig net soos
ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.”
Miskien het jy vandag by ‘n kruispunt in jou lewe gekom.
Dit voel vir jou asof jy in ‘n doodloopstraat is. Dit voel dalk vir jou
asof jy nooit weer op die regte pad sal kom nie. Jy wonder of God
jou ooit raaksien. Of Hy jou hoor.
Dit is nie so nie! God sien jou regtig raak in jou krisis. God het in
Christus saam met ons al die stofpaaie kom loop. Al die sinkplaat
paaie wat ons die stampe en stote in die lewe gee. Maar nooit het
Christus die slaggate raak geleef nie. Al het ons al in hoeveel slaggate
Beland, kan ons met sekerheid weet en glo:
Christus het ‘n nuwe weg vir my kom baan. Vir mý persoonlik.
Die weg en die waarheid en die lewe! – Johannes 14:6.
God sien my regtig raak! Neem Hom op sy Woord daarvoor!
Ernest