Ons praat van “pikdonker” wanneer ons regtig niks
kan sien nie. Maar min mense was al op ‘n plek waar
daar letterlik geen lig is nie. Soos diep in ‘n mynskag,
honderde of duisende meters onder die aarde.
Daar kom letterlik geen lig hoegenaamd nie.
Daar is nie eers ‘n silhoeët sigbaar nie. Net duisternis.
Inkswart. Onder in ‘n mynskag kan ‘n mens letterlik nie
jou hand voor jou oë sien nie. Die duisternis sluk jou in.
Druk jou vas.

Daar is dus goeie rede waarom duisternis in die Bybel
die simbool van sonde en verlorenheid is. Johannes sê
byvoorbeeld: “As ons beweer dat ons aan Hom deel het,
en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie
volgens die waarheid nie.” – 1 Johannes 1:6.
Die sonde maak ons blinde mense wat in die stikdonkerte
soek na iets wat nie daar is nie. Ons dwaal in stikdonker.
Uitsigloos en hopeloos.

Dit is na hierdie donker wêreld dat God sy eniggebore Seun
gestuur het. ‘n Beeld uit die mynbedryf illustreer dit mooi.
Wanneer slagoffers van ‘n myn-storting diep onder die aarde
in stikdonkerte vasgekeer is, probeer die redding spanne so
gou as moontlik suurstof en lig daar kry. Hulle laat gewoonlik
‘n gloeilampie aan ‘n lang koord in die mynskag afsak.
Dit verskaf nie net lig nie, maar gee ook ‘n verwysingsraamwerk
aan die vasgekeerdes om te sien waarin hulle moet funksioneer.
Dit bemoedig ook die vasgekeerdes en gee hulle hoop! Dit help
om hulle intense vrees te verdryf.

So het die Seun van God in die donker wêreld, die mynskag van
hierdie sondige wêreld in gedaal. Jesaja het lank voor die koms
van Christus al hieroor geprofeteer: “Die volk wat in donkerte
geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land
was, het ‘n lig geskyn.” – Jesaja 9:1.
Daar is nie ‘n plek op aarde wat te donker is vir dié lig nie!
Nie eers die diep mynskag van my eie hart nie!

Ernest