Ons kan maklik dink dat God uit hierdie wêreld afwesig is.
Dikwels lyk dinge so ellendig om ons dat mense wonder
wáár God binne dié konteks is. Siekte, sterwe, lyding,
bankrotskap, egskeiding,...waar is God daarin? Is God te
groot, te ver, te besig?

Nee! God het ons nie alleen gelaat nie. Hy het dit alreeds
bevestig in die Naam van Jesus wat na die wêreld gekom het:
“...hulle sal Hom Immanuel noem. Die Naam beteken God by
ons.” – Matteus 1:23. En meer nog! God het ín Jesus Hom aan
ons sigbaar kom maak! Jesus sê in Johannes 14:9:
“Wie My sien, sien die Vader.” Dit is ons troos.

‘n Swart man het destyds uit die platteland sy siek seuntjie
na ‘n groot hospitaal in die stad gebring. Vir albei van hulle
was dit ‘n totaal onbekende en ontstellende ervaring in die
“onbekende”. Boonop moes die pa sy kind in die hande en
die sorg van die verpleegpersoneel oorgee. Hy moes die saal
verlaat en dit het by beide pa en seun skeidingsangs veroorsaak.
Die pa se hart wou breek toe hy die vrees in sy seuntjie se oë
sien en hoe verwilderd hy optree tussen die wit lakens en die
gewerskaf van die verpleegsters. Toe haal die pa sy hoed af
en gee dit aan sy seuntjie om aan vas te hou terwyl hy weg is
tot die volgende besoektyd. Getroos deur die “teenwoordigheid”
van sy pa in die bekende hoed, het die seuntjie rustig en aan die
slaap geraak...

In die onsekerheid van hierdie wêreld het God meer as dit gedoen!
Hy het letterlik Iemand gegee om aan vas te hou. Meer nog:
Hy het Homself gegee. En die belangrikste is dat Hy óns vashou!
Daarom heet Hy: “Immanuel, God by ons”.
Leef uit die werklikheid van die teenwoordigheid van God by jou!

Ernest