Wat is die verskil tussen die Christelike godsdiens
en die ander godsdienste van die wêreld?
Waarom meen Christene dat Boeddhiste of Moslems
byvoorbeeld nie op grond van húlle geloof gered word
nie? Is dit enigsins nodig om mense van ander godsdienste
te probeer oorhaal tot die Christelike geloof? Wat is die een
ding wat die Christelike geloof uniek maak?
Wat is die spesifieke, die uitsonderlike van ons geloof –
dit waarvan Christene andersdenkendes so graag wil oortuig?
Ons sou baie hieroor kon gesels. Maar die groot verskil met
ander godsdienste sou in ‘n neutedop saamgevat kon word:
In alle ander godsdienste moet mense op een of ander manier
“opklim” na God toe; in die Christelike godsdiens kom God “af”
na mense toe. In alle godsdienste van die wêreld is daar die
strewe om deur sekere reëls of wette na te kom, op die een of
ander manier by “God” uit te kom. Om sy guns en genade te wen.
Weliswaar is daar soms sprake van genade, maar dit is “genade
uit verdienste”. Genade word in die Christelike geloof uniek
verstaan. Nie uit verdienste nie! In die Christelike geloof word
nié van mense gevra om deur inherente vermoëns, ingebore
godsdienstigheid, of stiptelike toewyding, soos byvoorbeeld
deur gebedstye, hulleself “goed genoeg” te maak om deur God
aanvaar te word nie.
Ons kan op geen manier iets doen om self by God uit te kom nie.
Nee. God het na ons toe gekom! In Jesus Christus.
Titus 2:11: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers
aan alle mense verskyn.” God maak my sy kind. God kom na my toe.
Toe ek nog goddeloos was! Niks kon doen nie. Niks kon verdien nie.
Totaal verlore was.
Die Christelike geloof is uniek omdat die ware God Wie ons aanbid
so uniek is! Selfs die enkele treë wat ek dink ék na God toe gee,
is ‘n genade geskenk van God aan my! Ons kan slegs na Hom toe
kom omdat Hy ons na Hom toe bring. Hy het eerste na ons toe gekom.
Sigbaar. Hoorbaar. In Jesus!
Ernest