In 1969 is die eerste mense op die maan geplaas.
Richard Nixon, die destydse Amerikaanse president,
het gesê dit is sekerlik die grootste enkele gebeurtenis
in die geskiedenis van die mensdom, voorafgegaan deur
die grootste week in die geskiedenis van die mensdom:
“’n Week gekenmerk deur ongelooflike tegnologiese
prestasies, menslike vernuf en mannemoed”, het hy dit
genoem. Ons het begrip vir sy opgewondenheid.
Selfs nou nog, in ons tyd, weet ons van die ondernemings
om manne vir maande in ruimtestasies te plaas om
navorsing te doen. En dit maak die mens baie opgewonde
oor die “groot dinge” wat ons vermag. Maar helaas...
hoe klein is dit nie in terme van wat God doen nie.
Ons dink so groot oor onsself en so klein oor God.

Ook Neil Armstrong, die eerste ruimtevaarder wat sy voet
op die maan gesit het, het gepraat oor die grootsheid van die
oomblik vir die mens toe hy sy gevleuelde woorde gesê het:
“One small step for man, one giant step for mankind!”

En tog was dit hoegenaamd nie die grootste week of die
grootste dag in die geskiedenis van die mensdom nie.
Dink byvoorbeeld maar net aan die skepping deur God as
seker een van die grootste weke van die wonderwerke wat
God deurlopend doen. En die instandhouding van die skepping!
Hy het die planete geskep waarop ons poog om te land. Hy het
sterre geskep wat ons nooit sal bereik nie. Hoe klein is ons nie.

En dan praat die Bybel van die grootste dag! Toe God na “ons”
planeet toe gekom het: “Jesus is in Betlehem in Judea gebore...”
Matteus 2:1. Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die
mens was nié toe die mens sy eerste treë in die ruimte gegee het
nie, toe die mens as’t ware begin “opvaar het hemel toe” nie.
Die gebeurtenis wat die wêreld vir altyd sou verander, het
plaasgevind daardie dag toe God afgedaal het na die aarde toe.
In Jesus Christus het God sy voetstappe op hierdie sondige aarde
kom laat!

Iemand het, met apologie aan Armstrong, gesê dit was
“one small step for God, one giant salvation for mankind”.
En meer nog: dit was geen geringe stap vir God nie.
Dit het uiteindelik die dood van sy enigste Seun gekos...
die ander grootste gebeurtenis van alle tye! Die kruis en
opstanding van Jesus! Met Jesus se treë in hierdie wêreld
het Hy ook mý pad gekruis! Hoe groot is dít nie!

Ernest