Nog voordat die Amerikaners Neil Armstrong en
Edwin Aldrin met die maantuig “Eagle” op die maan
geland het, het die Russe vir Juri Gargarin in ‘n wentelbaan
om die aarde geplaas. Toe hy terugkeer was sy siniese opmerking
in ‘n personderhoud dat hy nie vir God daarbo gesien het nie.
Hy het gesê dat hy orals gesoek het, maar net hemelliggame en
leë ruimtes gesien het. Geen God nie. Daarom ís daar, volgens hom,
geen God nie.

‘n Klompie maande later het ‘n Amerikaanse ruimtevaarder na sý
terugkeer uit die ruimte gesê dat hy ook nie vir God daarbo gesien
het nie. Máár, het hy bygevoeg, dit was ook nie nodig nie. Hy sien
immers gereeld vir God op aarde! In die lewende werklikheid van
die teenwoordigheid van Jesus!

‘n Mens kan maklik by die teenwoordigheid van Jesus op aarde
verbykyk en verby leef. Selfs in die geboorte van Jesus, wat ‘n
historiese feit is, kan jy maar net nog ‘n kind sien wat gebore is
op ‘n bepaalde tyd en plek in die geskiedenis. Of jy kan na Hom
kyk, en God self sien! Johannes, wat saam met die ander dissipels,
letterlik vir Jesus self gesien het, skryf: “Van die begin af was Hy
daar. Ons het Hom self gehoor; met ons eie oë gesien; ja, ons het
Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak.” – 1 Johannes 1:1.

Let op die woorde: “Van die begin af was Hy daar...” Geloofswoorde!
Johannes was nie van die begin af daar nie! Maar in Jesus sien hy God!
Al sien hy Hom ook met sy eie oë, hoor hy Hom met sy eie ore, en raak
hy aan Hom met sy eie hande...Hy sien ook vir God!
Jy kan deur enige ruimte beweeg en God sien, of...nie sien nie.
In die geloof sien ons ook in die Kind in die krip vir God self. Al leef ons
meer as twee duisend jaar na die geboorte van Christus. Al was ons
nooit in die ruimte om Hom te “soek” nie. Jy hoef nie na die sterre te
reis om God te sien nie!
Sien God net raak, en leef Hom raak,
in die werklikheid van jou eie lewe!

Ernest