Ons is van nature blind en het die geloofsoog nodig,
wat die Heilige Gees aan ons gee, om te kan sien. Ons moet
soos kinders kan glo én sien! Die volgende gebeure illustreer
iets daarvan:
In die Kers-seisoen het ‘n vrou drie kinders voor ‘n winkelvenster
gesien. Hulle het baie opgewonde gepraat oor dit wat hulle in die
winkelvenster sien. Boompies en liggies. Poppe en treintjies.
Die buitenste twee kinders het opgewonde
aan die middelste een verduidelik wat hulle sien!
Die middelste een het doodstil gestaan met die neus skoon platgedruk
teen die winkelvenster. Net so opgewonde as die ander twee.
Toe sien die vrou die middelste kind is blind.
Die ander twee was opgewonde besig om aan haar te vertel
wat hulle in die venster sien!
Speelgoed, skapies, ‘n pappa en mamma en ‘n baba in ‘n krip,
Kersversierings!
Sy was net so opgewonde want sy kon die venster
deur die beskrywing van die ander twee “sien”!
Sy kon die wonder-venster deur die oë van haar maatjies beleef!
Wat sê dit vir ons?
Dit herinner ons daaraan dat die mens van nature blind is
om die “wonder-venster” van God te “sien”.
Ons is van nature blind vir die wonder van die geboorte van die Seun van God.
Wanneer jy met menslike oë na die Seun kyk,
sien jy bloot ‘n mens, en is jy blind vir sy Godheid.
Want Jesus wás waarlik ‘n mens!
Dit moet ons vir geen oomblik vergeet of afwater nie.
Maar wanneer jy met geloofsoë na Jesus kyk, sien jy uiteindelik...God.
Ons wat só sien, wat kan rááksien, moet dit aan ander vertel.
Ons moet so opgewonde wees soos die twee kindertjies
wat aan die blinde kindjie vertel wat hulle sien!
Ons moet weer soos kinders opgewonde vertel oor die wonder van God in Betlehem.
Ons moet ander ook opgewonde en bly maak oor dié wonder!
Die apostel Johannes het dit gedoen,
en nie net sodat ander bly kan wees nie!
Kyk wat sê hy: “Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle,
sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê...sodat ons blydskap volkome kan wees!”
– 1 Johannes 1:3-4.
Sodát ons blydskap volkome kan wees!
Ernest