God skryf nie die skepping af nie! Dink aan die gebed van
Psalm 138:8: “Moet tog nie die werk van U hande laat vaar nie.”
God bly getrou – Psalm 146:6. God maak die skepping weer nuut.
Dieselfde skepping wat die wonde van die sonde moet dra, word
uit die verderf bevry. Daarom praat ons eerder van God se
herskepping (recreatio) as van ‘n totaal nuwe skepping (nova creatio).

Daarom bely die Christelike kerk deur die eeue dat Jesus gebore is uit
die maagd Maria. Jesus word uit Maria gebore en is voluit mens.
Hy moes mens word om vir die mens te betaal in die mens se plek.
Plaasvervangend sterf Hy in ons plek aan die kruis. Daarmee bevestig
God sy trou: Hy wil hiérdie wêreld en die mense van hiérdie wêreld red.
Hy het húlle lief en húlle is die kroon van sy skepping. Húlle het tragies
in sonde verval. God het húlle lief! Húlle wil Hy red! Daarom stuur Hy sy
enigste Seun om in hulle plek te kom sterf. Daarom sterf Jesus ook in ons
plek as egte mens! Die verlossing wat Hy vir die mens bring is eg!

Jesus is nie gebore ter wille van die wonder van die geboorte self nie.
Dit is opsigself ‘n wonder van God dat God na die wêreld kom in die
gestalte van ‘n mensekind. Die dieper dimensie wat ons egter maklik
miskyk is: Jesus word gebore om te sterf! Hy is ‘n teken wat deur baie
weerspreek sou word, tot die dood toe. Lukas 2:34: “Kyk, hierdie Kindjie
is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie...en tot ‘n teken wat
weerspreek sal word”.

Van die begin af was dit in Jesus se aardse lewe ‘n werklikheid.
Emil Beuchner het hieroor by geleentheid in ‘n preek gesê:
“Die wyse manne is waarskynlik so gou weg na die hulde wat hulle
gebring het omdat hulle besef het...om naby Jesus te wees beteken
moeilikheid in hierdie wêreld. Om by Jesus te bly sou wees om
moeilikheid te soek. Dit sou beteken dat jy bereid moes wees om in
sy dood te deel. Dit is dalk die waarheid wat groter is as ander
waarhede: Om sonder Jesus te probeer leef, is ‘n erger dood as om
saam met Jesus te sterwe.”
Dit moet óns ook goed weet: Wie Jesus volg, sal deel in sy sterwe.
Máár...vir ewig lééf vir God!

Ernest