Ons bely dikwels op Sondae tydens eredienste dat Jesus Christus
“...ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die Maagd Maria”.
Iemand het eenkeer gesê hy kruis maar sy vingers agter sy rug en hy
hoop dat dit wel waar is as hy bely “...gebore uit die maagd Maria.”
Dit is tog biologies onmoontlik. Dit druis tog in teen die wette van
die natuur. En God het tog ook dié wette daar gestel!

Daar is allerhande argumente deur die eeue gewees oor hierdie belydenis.
Feit is: die Bybel sê só. Dit is nie iets wat by ‘n kerkvergadering uitgedink
is nie! Allerhande buite Bybelse argumente is nie deurslaggewend vir ons
geloof nie. Die punt is: Ons glo werklik dat niks vir God ónmoontlik is nie!
In Lukas 1:34 vra Maria sélf vir die engel of so iets tog moontlik is?
In vers 37 sê die engel vir haar dat niks vir God onmoontlik is nie!

Buitendien...kom ons dink verder daaroor. In die Christelike geloof is
daar groter waarhede waarteen jy jou ongelowige kop sou kon stamp.
Dink eerstens aan die wonder van die skepping, dat God uit niks alles
geskep het! Genesis 1:1, die heel eerste vers in die Bybel rig al hierdie
geloofs-uitdaging aan jou. As jy dit glo, is die maagdelike geboorte vir
God “kinderspeletjies”. As jy dít nie glo nie, dat God die skepper God is,
kan jy ook niks in die res van die Bybel glo nie.

Dink verder aan die geheimenis van die drie-eenheid van God.
En die méns in die Persoon van Christus, ware God én ware mens!
Ook Christus se opstanding uit die dood. En die belofte van ‘n nuwe
hemel en ‘n nuwe aarde. As God dit álles kan doen, is die maagdelike
geboorte vir Hom geen “probleem” nie.

Maar nou die belangrike: Met hierdie belydenis raak ons aan die hart
van die evangelie. Dit is dat Jesus, alhoewel waarlik mens, ook waarlik
God is!
Hy word gebore as mens, maar is God en kom van God – Joh. 1:1.
Dit is juis dít wat die maagdelike geboorte uit Maria onderstreep.
Ons hoef nie ons vingers agter ons rug te kruis en maar net te hoop
wat ons glo is waar nie! Ons kan eerder ons vingers voor ons vou in
hande van gebed en God aanbid en dank vir sy gróótheid-bó-álles.
Hoé gróót is die God wat ons aanbid! Ook Hý gee ons die geloof
om die waarheid te glo! Hoé gróót is ons God!

Ernest