Mense het al dikwels gevra hoekom die naam
van Maria in die geloofsbelydenis voorkom?
Die eerste deel van die geloofsbelydenis gaan
tog oor God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
Dit gaan ook oor Jesus, die eniggebore Seun
van God wat waarlik ook self God is.
Hoort die naam van ‘n gewone mens enigsins hier?
Matteus 1:16 sê: “...Maria uit wie gebore is Jesus
wat Christus genoem word.”
Daar is goeie redes waarom Maria se naam genoem word.
Dit onderstreep die historisiteit van die geboorte van Jesus.
Dit wil sê Jesus was ware mens, gebore uit ‘n mens,
wat geleef het in ‘n bepaalde tyd, God se tyd om die
Verlosser na die wêreld te stuur. Die “kairos” tyd!
Jesus is uit ‘n vrou gebore, uit ‘n lang ry geslagte:
Seun van Maria, en só Seun van Dawid, soos voorspel,
en Seun van Abraham – Matteus 1:1.
Ons geloof word nie vasgemaak aan ‘n blote teorie
of ‘n wonderlike idee nie. Dit is nie abstrak nie.
Ons geloof is gerig op ‘n Persoon wat ín God se tyd
op aarde kom leef en sterf het, as God self.
Ons geloof is gegrond op ‘n heilsfeit,
in die werklike geskiedenis!
God is in Christus ‘n werklikheid op die
kalender van tyd!
Werklik! Waar!
Glo dit!
Ernest