As Jesus ‘n kruis moes dra, kan Jesus se volgelinge,
wat nou sy gestuurdes in hierdie wêreld is, nie ‘n pad
vol rose verwag nie. Maria, die moeder van Jesus, is seker
die eerste voorbeeld van ‘n gelowige wat op ‘n besondere
wyse moes leer dat geloof in Jesus ‘n prys vra, opoffering vra,
kruisdra impliseer. Heel aan die begin van die Nuwe Testament
gebeure, hoor sy al dat ‘n swaard deur haar siel sou gaan,
in Lukas 2:35.

Dit geld vir die lewe van elke volgeling van Jesus. Die wêreld sal
ons nie toejuig nie. As ons Jesus werklik navolg met oorgawe,
sal die wêreld ons selfs haat. Jesus het self gesê dit sal hand aan
hand loop met geloof in Hom. Dit moet ons egter nie pessimisties
maak nie. Dit moet nie maak dat ons huiwerig is om Jesus voluit te
volg nie. Want “elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar
elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou”, sê Jesus
in Lukas 9:24. Onthou wat Beuchner gesê het: “Om sonder Jesus te
probeer leef, is ‘n erger dood as om saam met Hom te sterwe.”

Maria sing ‘n loflied vir die Here ten spyte van die waarheid dat
‘n swaard deur haar siel sou gaan. Sy maak met die loflied ‘n
persoonlike belydenis dat God na haar in haar geringheid omgesien
het, en dat Hy aan haar groot dinge gedoen het – Lukas 1:48-49.
God het haar raakgesien! God sien jou ook raak. Daarom glo jy!

Ware geloof sluit altyd ‘n persoonlike oortuiging in, ‘n persoonlike
ervaring van die werklikheid van God se dade in jou lewe, wat jou
oortuig om jou kruis vir Hom te dra! Jy kan en wil nie anders nie.
Dit is meer as om maar net ‘n paar “objektiewe” feite oor God of
Jesus te weet. Geloof is om “subjektief” met jou hele lewe betrokke
te wees by die lewende verhouding tussen jou en God. Ware geloof
sluit altyd die persoonlike belewenis van God se dade in jóú lewe in!
Daarvoor sal jy kruis dra! Al moet daar ook ‘n swaard deur jou siel gaan...
Daarvoor het jy rééds in jouself gesterf, om die nuwe lewe te ontvang!

Ernest