In Maria se loflied bely sy Wie God is, en watter groot
dinge Hy vir ons doen! Spesifiek aan haar, in Lukas 1:49-50.
Geloof sluit nie net ‘n persoonlike oortuiging in nie, maar
veral die oortuiging oor Wie en hoe God is! Maria sê dat God
‘n God van ontferming is, in Lukas 1:50: “Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer.”

God se ontferming word nie gestuit deur die ongehoorsaamheid
van mense en die weerbarstigheid van hulle harte nie. Dit gaan
voort van geslag tot geslag, deur die geskiedenis. Want só is God!
Sy wese is ontferming. Psalm 103:8-10 beklemtoon dit:
“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.
Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly
nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons
nie vir ons ongeregtighede nie...”

Ons kan nie die Kers-evangelie verstaan as ons nie hierdie
ontferming van God glo en begryp nie. Sy Seun word vir ons
gebore, juis omdat Hy ons liefhet, ‘n sagte en barmhartige hart
vir ons het, en Hom oor ons ontferm.

Van Ruler, die teoloog, het geskryf: “Daar is een ding wat ons
diep en mateloos troos: dat daar êrens in die wêreld, ja, in die
skepping, werklik ‘n Hart is en dat die heelal daarom nie koud
en stom is nie”. God se hart klop vir sondige mense, vir jou!
Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan die wat Hom eer...

Jou hart hoef nie gejaagd te klop oor alles wat jou bekommer nie.
Want God se hart klop vir jou! Dit is die boodskap van die hierdie
Christusfees. Kersfees.

Ernest