Kersfees beklemtoon: God is getrou!
Maria sing nie net in haar loflied oor God se ontferming
oor ons nie. Sy sing ook oor hoe getrou God is! Alles wat
God doen, beklemtoon sy trou! God hou sy beloftes!
In Lukas 1:54 dink Maria aan God wat, getrou aan sy
beloftes aan Israel, Hom nou ontferm oor die wêreld met
die koms van Jesus. Sy dink aan die beloftes aan die voorvaders,
Lukas 1:54-55. Dié beloftes doen God gestand. Hy het sy volk,
en daarom ook vir ons vandag, nog nooit in die steek gelaat nie.
God se trou laat Hom onthou.
Dit sien ons dwarsdeur die geskiedenis van die mens.
Die duidelikste bewys daarvoor is Jesus wat na die wêreld kom!
Daar was werklik geen enkele rede waarom Jesus gebore móés
word nie. Inteendeel. Deur die eeue het die mens God vergeet.
Dikwels doelbewus afgeskryf. Soos vandag nog, sy Woord verwerp.
Ons was ontrou, en is vandag nog ontrou. Maar God bly getrou!
Dit gee ons moed om vorentoe te gaan. Die toekoms hang nie van
ons af nie. Dit maak nie saak wat die wêreld met Kersfees maak nie.
Want die toekoms hang nie van die wêreld af nie. Kersfees sê die
wêreld is in God se hand! Ons laat maklik mekaar in die steek.
Ons laat ons planeet in die steek, en verniel ons woonplek.
Ons laat ook vir God in die steek. Maar Goddank, God is anders!
Hy bewys dit in die Kind in die krip! En Hy gee die belofte op hierdie
Kersdag aan jou: Die goeie werk wat Hy in ons begin het, sal Hy enduit
voer en dit “...voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom”-Fil 1:6.
Christus wat met Kersfees gekom het...kom wéér! Want Hy is getrou!
Ernest