Die geboorte van Jesus verseker ons van hoe intens God
sorg vir sy skepping, en die mens by name. Wanneer Maria
haar loflied sing oor die ontferming van God, en oor sy troue
vervulling van sy beloftes, dan sien ons dit so duidelik uit
Lukas 1 verse 46-56. Die vraag kom op:
Wie is dit eintlik oor wie Hy Hom ontferm? Natuurlik oor alle
mense. Maar die loflied beklemtoon dat niemand te gering is
vir God se ontferming nie.
Dit gaan nie net oor die vooraanstaandes en die “verdienstelikes”
nie. Dit gaan veral ook oor die geringes en die behoeftiges sê
Lukas 1:52-53.
Wanneer Maria hierdie mense in haar loflied noem, bedoel sy
waarskynlik eerstens mense wat in konkrete noodsituasies verkeer.
Mense wat werklik dringend verlang na hulp in hulle nood. Mense
wat verstote vol, eensaam en beproef. Hulle is seker veral die mense
wat verseker weet dat hulle nie hulself kan help nie. Dit is hulle wat
dit intens beleef dat hulle hulp net van die Here af kom. En daarvoor
eer hulle Hom – Lukas 1:50.
Die belangrike is: Geloof behoort aan mense wat weet hoe volkome
afhanklik hulle van God is.
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan
hulle behoort die koninkryk van die hemel.” – Matteus 5:3. Mense
wat dit regtig besef leef eenvoudig net uit die ontferming van God.
Hulle weet dat alles van God se ontferming en sy seën afhang.
Al ons arbeid, al ons sorge, en selfs die gawes van God, baat ons niks
sonder God se seën nie. Om net te sê dat ons nie sonder God se gawes
kan leef nie, is nie goed genoeg nie.
Let op: Ons kan eenvoudig nie sonder God leef nie! Sonder God bestaan
Jy net. Maar jy lééf nie! Soos ‘n klein kindjie afhanklik is van die sorg van
sy ouers om te oorleef, en te leef, so is ons afhanklik van die sorg van God.
Hy is ons versorgende Vader: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle
kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die
hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” – Matteus 7:11.
Daar is niemand wat té gering en té behoeftig is dat God nie vir hulle sal
sorg nie! God sorg juis vir húlle! Die geboorte van Jesus het weer kom
beklemtoon dat ons God se ingrype in hierdie wêreld en in my eie lewe
lewens noodsaaklik moes ontvang om eenvoudig net te kan lewe.
Waarlik te kan lewe!
Ernest