Geloof is nie soos ‘n pynpil wat die pyn laat verdwyn
wanneer jy dit drink nie. Baie mense wil dit so sien.
Daar is selfs ‘n hele teologie rondom hierdie tipe geloof
opgebou. Die sogenaamde voorspoed teologie. Dit wil jou
leer dat indien jy goed genoeg glo en jy reg glo, jy net seën
en voorspoed kan verwag. Glo net goed genoeg, dan sál jy
gesond word. Glo net reg, dan sál dit gebeur. As jou geloof
reg is ontvang jy net die beste: In verhoudings, in gesondheid,
in materiële welvaart, in alle lewensomstandighede.

Is dit waar? Natuurlik kan die Here dit doen. En natuurlik bedoel
Hy die beste vir ons in terme van sy goedheid en guns aan ons.
Al stem ons idee van wat die beste vir ons is nie altyd saam met
wat sy wil is nie. Die baie belangrike is dat hóóp steeds deel is
van geloof. Romeine 8:24: “Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie
meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien?” Al word die “regte”
geloof dan ook uit genade aan ons geskenk, sal ons in hierdie lewe
nog steeds geloofstryd ervaar. Ook geloofspanning en geloofs-
inspanning. Dit is deel van die hoop wat in ons leef, en dus ook
van die geloof wat in ons leef.

Martin Luther het diepsinnig oor geloof en geloofsekerheid geskryf.
Maar hy skryf ook in dieselfde konteks oor twyfel. En oor die troos
wat God gee in geloofs-twyfel. Volgens Luther is geloof niks anders
nie as getroosde-twyfel. Selfs al is jy ‘n diep gelowige sal jy steeds
geloofstryd, geloofspanning en twyfel ervaar.

Ons kry twee soorte twyfel: ongeloofstwyfel, wat ver weg van
God af is, en wat die teenoorgestelde as geloof is.
Geloofstwyfel is egter totaal iets anders. Dit is geloof wat worstel,
wat sukkel, wat “in die middel van die nag” nie kan sien wat aangaan
nie. Dit is ‘n soort twyfel wat nie teenoor geloof staan nie. Dit plaas
jou nie buite die lewe saam met God nie. Dit is egter inherent deel
van geloofsgroei.
Ons kan sê: “Vader, hier is ek. Getroosde twyfelaar. Wat gló!”

Ernest