Geloof gaan hand aan hand met kennis.
Ons moet tog weet in Wie ons glo, en wat ons glo.
Geloof sonder kennis is net so dood as geloof sonder werke.
Hoe meer ons van God te wete kom uit sy Woord en uit sy
skepping, hoe meer help dit ons in ons geloof. Dit gaan egter
nie daaroor om “alles te weet” voor ek kan glo nie.
Klein kindertjies kan opreg glo. Om van God te leer uit sy Woord,
Wie Hy is, en wat Hy doen, versterk ons geloof. Ons hoef nie,
en kan nie alles van God weet nie. Hoe meer ons egter weet,
hoe meer help dit ons in ons getuienis en in ‘n lewe vir God.

Die belangrikste om te weet is dat God alleen ons Verlosser is
in Jesus Christus. Dit verander jou lewe onherroeplik wanneer
jy dit waarlik glo. Iemand het gebid:
“Vader, ek weet nie so baie soos ander mense van U nie.
Dankie dat wát ek weet, genoeg is om my lewe te verander,
om vir U te leef. Daar is so baie dinge wat my van U af kan weghou.
Maar, dankie Here, dat dit nooit genoeg sal wees om U van my af
weg te hou nie.”

Geloof vra baie meer as net kennis. Geloof vra ook opregte vertroue.
‘n Mens kan baie oor geloof praat, en jou tog nooit in die praktyk volledig
op Christus verlaat nie! Jy praat daaroor sonder om met Christus te waag!
Geloof vra ‘n oorgawe van jouself, wat niemand anders vir jou kan doen nie.
Niemand kan namens jou glo nie. Geen ander persoon se geloof kan jou red
nie. Al die kennis en korrekte belydenisse kan jou ook nie red nie.
Jy moet jouself totaal afhanklik op Christus alleen werp.
Wanneer jy soos Petrus bely: “U is die Christus, die Seun van die lewende
God” – Matteus 16:16, dan gee jy jou hele lewe prys ter wille van Hom.
Dit gebeur ‘n eerste maal, en ook elke dag van jou lewe wat daarop volg.
Glo opreg!

Ernest