Die Apostoliese Geloofsbelydenis begin met
hierdie woorde: “Ek glo in God...”
Met hierdie woorde is ons by die hart van ons geloof.
Ons kan nooit oor God uitgepraat of uitgedink raak nie.
Ons kan Hom eenvoudig net aanbid en prys! Ons kan
eenvoudig net dankbaar vir Hom lewe.
Maleagi 4:2 sê so treffend: “Maar vir julle wat eerbied het
vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in
sy strale. Julle sal vry word...”
Daar is ‘n besondere natuurbeeld wat so baie sê oor ons
verhouding met God: Die kleurvolle toneel van ‘n veld vol
sonneblomme wat vol in blom staan. Wanneer die son skyn,
staan almal met hulle gesigte na die son gekeer. Die son is
die bron van hulle bestaan! Selfs die sonneblom se naam
word ontleen aan die son! Maar wanneer die son agter digte
wolke verdwyn, of wanneer die son sak, buig die blomme na
onder en hang. Skielik lyk hulle verskrompel en verlep.
So is dit ook met ons in ons verhouding met God ons Skepper!
God se son van genade skyn oor ons. Ons doel, en die sin van
ons bestaan is om ons kop na God toe op te tel. Hom te aanbid
en vir Hom te lewe. Maar die sonde in ons lewe is soos ‘n wolk
wat voor die son inskuif. Dit tas ons verhouding met God aan.
Ons kyk dan nie meer op na Hom en eer Hom nie, maar bly soos
verlepte blomme wat hang op onsself ingekeer. Eie belange,
bo wat God wil hê, laat ons die doel van die lewe mis. Dan is
ons nie meer sonneblomme nie, maar sonde-blomme.
God het ons geskep en verlos om Hom te aanbid, te eer en te prys.
Dit is die diepste sin van ons bestaan. En die wonderlike van ‘n lewe
vir God is dat God se son nooit ondergaan oor ons lewe nie. Vir eens
en vir altyd, tot in ewigheid, is ons in God se lig! En al gaan ons in die
lewe deur donker dieptes, soos Psalm 23 sê, kan ons weet:
“...vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn
met genesing in sy strale.” – Maleagi 4:2.
Ernest