Die ure, minute en sekondes van 2020 is besig om uit te loop.
Met alles wat in hierdie jaar gebeur het was dit ‘n “vinnige” jaar.
Die ongekende tye waarin ons in hierdie jaar geleef het, het ons
as’t ware vinniger vorentoe geskuif! Onder ons neus is die tyd verby!
Aan die einde van die jaar kry baie van ons sulke melancholiese
belewenisse. Soos iemand sê: Jy begin verlang na iets of iemand
wat jy nie ken nie. Heimwee omring jou. Jy begin dink aan die jaar
wat verby is. Ongekende tye in ons lewe. Vroegjaar het ons
voornemens gehad vir die nuwe jaar. Min het ons geweet hoe dit
sou uitdraai. 2020 was ‘n unieke jaar in elkeen van ons se lewe.

Die grootste vrae wat ons egter moet vra het eerder te doen met
ons menswees vir die Here:
Was ek hierdie jaar ‘n sagter mens? Het ek meer meegevoel met
ander mense gehad en meer hulp verleen?
Was my tong onder beheer van die Heilige Gees?
Het ek meer tyd aan gebed spandeer as aan onnodige bekommernis?
Was die Here se Woord ‘n lamp vir my voet en ‘n lig op my pad?
Het ek mense se lewens aangeraak deur die vrug van die Heilige Gees
in my lewe?
Was ek ‘n naaste vir mense wat platgeslaan was in ons omstandighede?
Het ek die jaar geniet as ‘n gawe van God ten spyte van die vreemdheid
van die afgelope jaar, en al die swaarkry en ellendes waaroor mense elke
dag kla?
Het ek die son sien opkom en die wind in my hare gevoel?
Het ek kinders se sorgvrye lag gehoor en hulle speel geniet?
Het ek die boodskappe uit die Woord gaan uitleef in praktyk?
Het ek opnuut ervaar dat God werklik vir mý raaksien?

Kom ons buig in dankbaarheid voor die Here vir ‘n jaar vol geleenthede,
en seëninge waarin Hy ons elke oomblik die asem van lewe laat beleef het!
Groot is sy Naam!
Amen!

Ernest