Op een grafsteen staan daar sy het 76 jaar en 364 dae geleef.
Een dag minder as 77 jaar...
Op ‘n ander grafsteen staan daar hy het 6 ure geleef.
21600 sekondes. Bietjie meer as een oggend in ons lewe...
Hoe broos is die lewe nie!? Hoe kosbaar was elkeen van
daardie sekondes!
Voor ons lê ‘n nuwe jaar. 31 536 000 sekondes min of meer.
Elke sekonde wat ons gegun word om te leef, elke asemteug,
is ‘n geskenk van God! Elke asemteug ‘n gawe uit sy hand van
genade. Elke sekonde genadetyd! Elke asemteug ‘n geleentheid.
Om vir die Here te leef. Om te weet aan Wie ek behoort.
Om jubelend en met vreugde en dankbaarheid te leef.
Om ook sweet af te vee en te sê “dankie Here!”
Sekondes, oomblikke om in te glo. Om in te dien. Om in te groei.
Waarlik! Tyd is oneindig kosbaar! Daarom sê Paulus:
“Maak die beste gebruik van elke geleentheid.” – Kol. 4:5.
Elke sekonde leef ons nader aan die einde van alles.
Hoeveel van die sekondes van hierdie nuwe jaar sal aan my
gegun word, uit genade? Gelukkig is ons aardse begin en ons
aardse einde in God se hand. Psalm 31:16:
“My tye is in U hand...” Elke sekonde.
H.A. Dobson: “Ons sê dat tyd so gou verby gaan.
Daarom is tyd kosbaar. Verkeerd! Tyd bly dieselfde.
Dit is óns en óns geleenthede wat verbygaan.
Dáárom is tyd so kosbaar!”
Ons kan elke dag besluit hoe ons die tyd in 2021 gaan benut,
die tyd wat God ons gee. Ons kan leef in die realiteit van Christus
se sterwe, opstanding en wederkoms wat netnou kan plaasvind!
Of ons kan lewe asof Jesus dood is. Punt.
Ons kan ons seëninge elke dag tel.
Of ons kan elke dag ons terugslae en laste tel.
Dit is joú keuse in 2021.
Ernest