Op watter pad gaan jy hierdie jaar loop?
Ons wil tog die pad kies waarop God verheerlik word
en waarop ons ‘n rustiger lewe in sy teenwoordigheid
kan lewe.

‘n Rustiger lewe beteken nie noodwendig ek
doen minder nie. Dit beteken ek lewe met meer kalmte,
minder bekommernis, meer sekerheid, meer vrede en vreugde
omdat ek weet ek leef in God se hand, elke dag.
Klink dit snaaks om te praat van “God se pad”?
Dit is nie ‘n abstrakte begrip nie, maar ‘n mooi beeld wat gereeld
in die Bybel gebruik word.
Dink maar aan Psalm 1:6: “Waarlik, die Here lei die regverdiges op
hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.”
God se werk in my en in ander mense rondom my word dikwels in
die Bybel as ‘n pad voorgestel.

Gelowiges en ongelowiges loop elke dag op ‘n pad.
Ongelowiges loop op ‘n cul de sac, ‘n doodlooppad. Hulle het
geen toekoms in ewigheid nie. Gelowiges se pad is vol lewe en hoop.
Hulle loop die pad wat Jesus kom loop het.
Hulle loop in Jesus se voetspore. Hulle volg Hom. Op hierdie pad word
gelowiges deur ‘n wonderlike hemelse gids vergesel: die Heilige Gees.

Hierdie pad is aan die smal kant. Dit het Jesus ons al in die bergrede geleer.
Want op hierdie pad neem jy jou kruis op en volg Jesus. Dit is nie so breed
dat elke mens daarop wil loop nie. Maar hierdie pad het ‘n ewige bestemming.
Jesus self het by hierdie bestemming vir jou gaan plek voorberei. Hy wag jou
daar in met ‘n oorwinnaarskroon.

Kies om op hierdie pad te loop in hierdie jaar. Jy weet wat die bestemming
daarvan is. Op hierdie pad is dit ‘n ontdekkingsreis en ‘n avontuur saam met
die Heilige Gees as gids. Kom ons loop hierdie pad van God,
en nie ons eie paaie nie...

Ernest