Vir baie mense is die lewenspad in Suid Afrika tans baie moeilik.
Dinge soos regstellende aksie, korrupsie, misdaad ‘n sukkelende
ekonomie, werkloosheid, en nog vele meer maak dit moeilik.
Die feit is dat ons die pad vorentoe moet loop. Ons kan nie gaan
stilstaan en kla nie. Dit bring ons nêrens. Ons kan lyste en lyste
maak van wat verkeerd is in die staat, die ekonomie, die kerk,
en selfs die mense rondom ons saam met wie ons leef. Maar dit
maak geen verskil nie en besoedel net die lewe waarin ons leef
nog meer. Ons het meer as genoeg om oor te kla as ons so wil leef.
Elkeen het ‘n “beter” storie om te vertel wat verkeerd is en hoe
sleg dit gaan. Maar waar bring dit jou persoonlik. Ons is ontnugter,
kwaad, gefrustreerd, verbitterd, vol haat...sonder lewenskwaliteit.

Die belangrike is om vorentoe te leef. Ons kan nie terugloop op die
lewenspad nie. Ons kan ook nie stilstaan nie. Die lewe gaan aan.
Miskien voel jy tans dat jy die slagoffer is van omstandighede waaroor
jy geen beheer het nie. Dit is nie heeltemal waar nie. Jy kan beheer
neem van hoe jy verder wil leef. Jy hét ‘n keuse! Al kan jy nie besluit
oor “groot” dinge soos die politiek en ekonomie nie, het jy tog ‘n
keuse oor jou eie lewe. God het jou lewe gegee, en vryheid van keuse.
Niemand kan vir jou voorskryf oor hoe jy daaroor moet dink nie.

Die sleutel tot lewenskwaliteit lê in jou eie kop. Begin om reg te dink.
Maak jou gedagtes vol met God. Wie Hy is, wat Hy vir jou gedoen het
en steeds wil doen, sy pad vir jou in Christus. Dink dinge wat God
verheerlik.
Hou op om op die negatiewe te fokus. Moenie elke keer ‘n “beter”
storie vertel as mense gesels oor hoe sleg dit gaan nie.
Swaai die gesprek! Beweeg weg onder die klakouse uit. Beweeg weg
van bitterheid af en kies vir geestelike rykdom!

Kies vir God se pad van vreugde. Hierdie lewe en hierdie nuwe jaar is
te kort om op negatiwiteit te mors. Kies vir God se vrede. Sien weer
God se groen weivelde raak, en waters waar rus is. Drink by die fontein
van die lewe! Dit is alles in jou hande. Jou lewenspad loop deur jou kop!
Altyd! Jy begin elke dag in jou kop. Gee die dag, in jou kop, vir die Here!
Kolossense 3:2: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die
dinge wat op die aarde is nie...”
Die Here gee jou pad dan nuwe rigting en nuwe betekenis!
Moenie net bestaan en kla nie. Lééf!

Ernest