Genade alleen! So word ek gered. Efesiërs 2:8:
“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.
Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n
gawe van God.”

Die belangrike is: Genade lê nie agter my nie!
Dit het nie net in die verlede gebeur toe ek ‘n Christen
geword het nie. Genade is eintlik ‘n werkwoord! Dit is
elke dag daar, nuut, in God se handeling met my.
Ek is elke dag in die greep van God se genade! Dit is ‘n
greep van liefde. Aktief. Werksaam. Dit aktiveer mý om
met my hele lewe daarop te antwoord. Elke dag. Aktief.
Werksaam. Ek leef uit genade, word gedra daardeur,
en deel dit onbeperk uit! Dit is die pad wat ek saam met
God en vir God moet stap.

Daarom moet ek die negatiewe wat ek raakloop in my eie
lewe en in die lewe van ander “dood-leef” met die genade
van God. Daardie stukkie in hierdie lewe waar ek is, my eie
stukkie pad, moet ek sentimeter vir sentimeter beter maak
in God se Naam en tot sy eer. Daar waar my voete spore trap,
en daar waar my skaduwee val, moet ek God se genade sigbaar
uitleef! Jesus se lig skyn elke dag op die pad wat ek moet loop.
Selfs pikdonkerte kan nie sy lig uitdoof nie. Hy wil elke dag lig
en hoop deur my bring in hierdie wêreld.

Ek leef uit God se genade. Elke dag. God het van lankal af al
‘n pad vir my gereed gemaak. Ek kon nooit vir Hom wegkruip nie.
En tot vandag toe, en môre, sal Hy my dra in sy arms. Sy genade
bly aktief, elke dag in my lewe. Johannes 10:28 sê dat Hy die
goeie herder is wat elkeen van sy skape in sy handpalm vashou.
Leef uit God se genade, bewustelik, elke dag, en deel dit uit,
oral op jou pad!

Ernest