Alle aanduidings is dat hierdie nie ‘n maklike jaar gaan wees nie.
Dit kan inderdaad ‘n baie moeilike pad wees met baie skerp draaie,
kronkels, opdraandes en afdraandes waar ons “buite beheer” kan
raak. Dit is nie ‘n maklike pad om te stap nie, en geloof is nie ‘n
kitsoplossing om ons op die pad te hou nie.

Geloof is nie ‘n wolk wat jou in moeilike omstandighede toerol om
saggies hemel toe te sweef nie.
Dit is ook nie ‘n hemelse versekeringspolis wat waarborg dat jy nooit
siek gaan word of jou werk verloor nie.
Geloof is nie ‘n mediese fonds nie.

Geloof is wel om saam met God op God se pad vir jou te wees.
Daarom gee God die Heilige Gees aan ons om ons te lei op God se
pad sodat ons nie verdwaal nie. Die Heilige Gees is ons gids op God
se pad.
Romeine 8:9: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie,
maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die
Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”

Die Heilige Gees lei ons op God se pad. Die Heilige Gees rus ons toe om
die wil van God te kan doen. Die Heilige Gees ken die pad van God omdat
die Gees self ook God is! Net die Heilige Gees kan ons op God se pad lei
in die toekoms in.

Hoe gaan ons enduit die pad van hierdie jaar en die toekoms stap?
Wel, hier is die goeie nuus: As kind van God gaan jy verseker nie hierdie
pad alleen stap nie! God het sy Gees gegee om in jou te woon en jou te
lei op God se pad. Soek in God se Woord na God se pad,
en laat die Gees jou lei op die pad van God!

Ernest