Vir een of ander rede is ons denke meestal uit die prentjie
wanneer dit by ons geloofslewe kom. Ons praat eerder van
ons hart, in terme van geloof.
Op elke ander plek in die samelewing het jy jou kop nodig.
Maar in die kerk glo die meeste mense, heel gerieflikheids-
halwe, jy kan daarsonder klaarkom. Ons word genooi om
“jou hart vir die Here te gee”. Ons moet ‘n “nuwe hart hê”.
Maar jou kop word die meeste van die tyd aan jou eie sorg
oorgelaat.

Dit is egter nie die Bybelse leer daaroor nie. Romeine 12:2
sê duidelik: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk
word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te
vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Ons moet nuwe gedagtes dínk, onder leiding van die Heilige Gees,
nuwe gedagtes wat ‘n nuwe wêreld oor God sal ontsluit. Stel jou kóp
in die Here se diens! Geloof begin in jou kop! Altyd. En die sonde begin
ook in jou kop. Ons kan nie, by wyse van spreke, jou hart vir die Here
gee en jou kop vir jouself hou nie.
Wanneer ons toelaat, en daarvoor bid, dat God ons denke vernuwe,
sal dit oorloop in nuwe woorde en nuwe dade wat God verheerlik.

Die mens is die kroon van God se skepping, en die brein is die grootste
wonderwerk van God in die mens se liggaam. In die brein gebeur jou lewe!
Jy is wat jy dink! Daarom roep die Bybel ons ook op om ons gedagtes te rig
op die dinge wat daarbo is...die oog gevestig op Jesus, die begin en voleinder
van ons geloof.
Ons moet leer om die vloei van gedagtes deur ons kop onder beheer te kry,
anders het dit tot gevolg dat jy die slagoffer van jou omstandighede raak,
want dan reageer jy heeltyd reaktief op dit wat rondom jou aangaan. Nee,
“laat God jou verander deur jou denke te vernuwe. Dan sal jy kan onderskei
wat die wil van God is...”

Ons moet van voor af ons koppe leer om reg te dink. Daarom is die woorde
“verander” en “vernuwe” so belangrik in hierdie teksvers. Laat toe dat God
jou verander deur jou denke te verander en te vernuwe! Die belangrikste is
dat jy beheer moet kry oor jou kop, onder leiding van die Heilige Gees.
Wat ons sê en wat ons doen, wys dikwels hoe min beheer ons oor ons
kop het. Gee jou kop vandag aan God. Nooi God in as die Een wat jou
gedagtes nuut maak!

Ernest