Die ou Grieke het al gesê jy is wat jy dink.
Jou denke bepaal jou gedrag. Elkeen van ons is uniek
met unieke denkpatrone. Dit wat jy dink, en ook hoe jy dink,
sê wie jy is. Sal ons nie vandag gaan nadink oor wat in ons koppe
aan die gang is nie? Want as jou denke verkeerd werk, krap dit jou
hele lewe deurmekaar. Gee weer vandag doelbewus jou kop vir die
Here. Hoe meer jy jou daarin oefen om jou denke doelbewus vir
Christus te gee, op Hom te fokus, hoe meer begin nuwe gedagte-
patrone in jou kop te vorm. Dink doelbewus aan die krag en liefde
en vergifnis van Christus. Op hierdie manier maak jy jou denke vol
met die Here se grootheid, en nie met jou eie stryd teen negatiewe
gedagtes nie.
Ons geloofstryd is regtig nie om deurentyd téén sondige gedagtes
te stry nie. Wanneer ons dit doen bly ons juis fokus op die negatiewe
gedagtes. Ons moet juis heeltemal anders fokus. Verskuif jou denke
na Christus toe. Laat Hý jou gedagtes vul! Dan begin jy op die pad van
geestelike vryheid dink en leef!
Iemand het die beeld gebruik van herfsblare. Wanneer die nuwe lewe
in die boom kom kan die herfsblare eenvoudig nie meer aan die boom
vasklou nie. Die ou lewe is verby. Die nuwe lewe, die nuwe blare,
verdring eenvoudig die ou blare wat afgesterf het. En die sonde val
“soos herfsblare” van die boom af.
Wanneer ons heeltyd ‘n stryd teen die sonde stry en op die sonde fokus,
raak ons gedagtes nie gevul met die lewe wat God gee nie. Dan stry ons
dikwels in eie krag en voel ons verlore in die stryd. Wanneer ons, volgens
Hebreërs 12:2 en 3, “die oog vestig op Jesus”, en Hom “voor oë hou”,
oorwin ons in sy krag!
2 Korintiërs 10:4-6 is hierin baie belangrik: “Die wapens van ons stryd is
nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat
vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke
hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word...” en dan
hierdie belangrike woorde, “...ons neem elke gedagte gevange om dit
aan Christus gehoorsaam te maak. Ons is ook gereed om met elke
ongehoorsaamheid af te reken...”
Verskuif deurgaans jou denke na Christus toe, weg van jou sonde en jou
stryd teen die sonde. Fokus op Hom! Die Begin en Voleinder van jou geloof!
– Hebreërs 12:2.
Ernest