Sonde begin in jou kop. In Jakobus 1 vanaf vers 13
verduidelik Jakobus dit mooi. In die Boodskap lees dit so:
“Een fout moet ons egter nie maak nie. Ons kan nie sê dat
God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om
my te toets nie. Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie.
...Nee, dinge wat ‘n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak,
is jou eie skuld. Die mens begin aan allerhande verkeerde
dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ‘n kind wat agter ‘n
skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die
persoon dieper en dieper die moeilikheid in. Dan word jou
Christenskap voor ‘n toets gestel. Jy moet kies...”

Let op die woorde: “Die mens begin aan allerhande verkeerde
dinge dink...” Sonde begin in jou kop! En let ook op die woorde:
“Jy moet kies...” Jakobus skryf dan verder: “As jy kies om op die
verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde
dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen,
hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ‘n mens.”

Sonde begin in jou kop! Jy raak nie sommer net verlief op iemand
anders terwyl jy self getroud is nie. Sonde spring nie uit die bloute
op jou en jy is maar net ‘n slagoffer nie. Jy kies self om op ‘n sekere
manier te dink, en dan te doen. Jakobus verduidelik dat sonde soos
‘n saadjie in jou gedagtes begin groei. Dis al! Daarna hang alles van
jouself af. Jy kan die saadjie begin water gee en versorg. Of jy kan
dit gif gee en vernietig. Wanneer jy die saadjie laat lê, gaan dit
ontkiem en groei. Kort voor lank word dit ‘n boom wat al jou
suurstof opneem en al die lig verdring. Dit begin soos ‘n saadjie in
jou kop en word ‘n onkruid wat alles verdring en jou lewe verwoes.

Gee die saad wat jy raaksien vir die Here. Dadelik! Bely dit voor Hom
in afhanklikheid van sy krag vir oorwinning! Moenie dit self probeer
uitroei nie. Laat die Heilige Gees daarmee afreken.
Fokus dadelik op God! Laat Hy jou verander deur jou denke te vernuwe.
Rig jou gedagtes op Christus. Hy het reeds die sonde aan die kruis oorwin.
Vul jou gedagtes met Hom!

Ernest