Dit is nie altyd lekker om te oefen nie, en soms het ons
groot motivering nodig daarvoor. Jy moet jouself soms
dwing om dit te doen. Maar omdat jy weet jy belê in jou
eie gesondheid, staan jy op en gaan stap, draf of trap.
Die beste motivering om iets te doen is innerlike motivering.
Innerlike motivering laat jou deurdruk. Wanneer ander jou
motiveer help dit gewoonlik net ‘n rukkie. Jy moet die innerlike
oortuiging hê dat iets werklik die moeite werd is, dan doen jy dit,
ook op die lange duur.

Net soos ons innerlik oortuig moet wees dat ons liggaamlike
oefening nodig het, net so moet ons ook werklik innerlik oortuig
wees dat ons kop-oefening nodig het. Ons moet oefen om anders
te dink! Dit is iets waaraan ons deurlopend moet werk. Ons val
maklik terug op ‘n ou manier van dink, veral weens invloede van
buite geykte denke rondom ons. Ons moet oefen om nuut te dink!

Dink hieroor:
Het ek al genoeg kere met my gedagtes myself in die mure van
sonde vasgeloop? Hoeveel keer het ek al skade aan mense gedoen
met hoe ek dink en optree? My vinnige humeur...wat my selfs laat
sê dit is nou maar hoe ek is..? dit is nou maar ek...My lelike taal?
My dubbele standaarde? My gebrek aan toewyding aan die Here?
Het my innerlike pyn hieroor my al beweeg om iets aan my manier
van dink te begin doen?
Ons moet egter weet: my kop gaan nooit vanself begin verander nie.
Ek moet vandag anders begin dink daaroor. Ek moet my kop begin
oefen om my gedagtes op Christus te rig. Ek moet my doelbewus
oorgee aan die leiding van die Heilige Gees. Dit is hoe God my wil
verander en my denke wil vernuwe.

Hoe oefen ek my kop?
Gee elke oggend doelbewus jou gedagtes aan die Here.
Gee jou gedagtes dan ook deurlopend, bewustelik, regdeur
die dag aan die Here.
Fokus doelbewus soveel jy kan en daaraan dink, op die Here.
Wat is sy wil? Hoe wil Hy hê moet ek nou dink en optree?
Dink aan die einde van die dag terug aan jou dag saam met die Here,
en gee aan die Here die eer en dank vir nog ‘n dag saam met Hom.
Gesels met Hom oor jou teleurstelling waar jy anders as sy wil gedink
en opgetree het. Die Heilige Gees sal jou hierin laat groei.
Dink doelbewus aan sy grootheid wat jy deur die loop van die dag
ervaar het. Gaan rus nou in Hom en sy vrede. Maak môre weer so!
1 Timoteus 4:7: “Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.”

Ernest