Spreuke 9 sê die lewe het twee paaie:
Die een pad se naam is wysheid.
Die ander pad se naam is dwaasheid.
Beide is soos twee vroue wat jou uitnooi om by hul
feesmaal te kom aansit. Albei het ‘n groot feesmaal
gereed gemaak. Hul bediendes is toe gestuur om
uitnodigings aan mense te gaan maak na die feesmaal.
Wysheid nooi, volgens Die Boodskap vertaling,
in Spreuke 9:3-5 soos volg: “Wysheid se uitnodiging was
duidelik: “Kom, almal wat nie weet hoe om reg te leef nie.
Kom, almal wat geen insig in die lewe het nie. Kom, geniet
in oorvloed, die goeie dinge wat ek jou bied.”
Dwaasheid het ook haar feesmaal gereed gemaak en nooi,
volgens Die Boodskap vertaling, in Spreuke 9:17-18:
“My huis is net die regte plek vir dommes, vir mense wat niks
van ‘n gelukkige manier van lewe weet nie. Dis tog so lekker
om dinge te doen wat verkeerd is. Soos om water of brood
te steel. Daarom is skelm verhoudings so lekker! Almal is in
my huis welkom.”
Twee vroue. Twee feesmale. Twee uitnodigings. Twee keuses,
wat jou in totaal teenoorgestelde rigtings gaan stuur.
Ons loop vandag nog hierdie uitnodigings raak op ‘n daaglikse
basis. Altwee se aanbod is steeds in aanvraag. Dalk is jy reeds
in “dwaasheid” se greep...
Vandag moet jy weer ‘n keuse maak: Wysheid of dwaasheid.
Met dwaasheid kies jy die dood. Met wysheid kies jy vir God
se manier van lewe en geluk. Wat is jou keuse? Elke dag kies ons.
Jy kan nooit neutraal bly nie! Kies vandag weer van voor af om by
die regte feesmaal aan te sit!
Ernest