Ons sê dikwels van iemand: “Daardie persoon ken nie sy
plek nie.” Hulle is gewoonlik teen een of ander gedragskode
in met hul optrede of maniere. Hulle word dan as “uit hulle
plek” beskou.
Iemand wat op soek is na God se wysheid, ken sy plek.
Volgens die boek Spreuke, is dit ‘n belangrike teken van die
wysheid wat God gee: Ken jou plek. Volgens Spreuke weet
ons te min van die lewe af om voorbarig te wees.
Met die wysheid wat van God af kom weet jy:
Om te praat as jy moet stilbly, wys dat jy nog nie die nodige
wysheid onder die knie het nie.
Om te maak of jy belangrik is, terwyl jy maar eintlik net ‘n
gewone mens is, is dom.
Om te dink jy kan die een selfsugtige verhouding na die ander
met mense van die teenoorgestelde geslag aangaan, is dwaas.
Dit wys dat jy nie weet wanneer jy met vuur speel nie.
Om nié te luister as ‘n ouer en meer wyse persoon jou die kuns
van die lewe wil leer nie, wys dat jy net eiewys jou eie kop volg.
Om nie respek vir mense in gesagsposisies te hê nie, bewys dat
jy nog nie die vaardighede aangeleer het wat saak maak in die
lewe nie.
Om onverantwoordelik met jou besittings om te gaan wys dat
jy jou beursie in die hande van dwaasheid oorgegee het.
Om met verkeerde mense vriende te maak, wat jou meesleur in
verkeerde dinge, toon dat jy nog nie God se wysheid omhels nie.
Wysheid is om jou plek te ken. Dit laat jou buig voor God.
Dit laat jou luister na mense wat oor wysheid beskik.
Dit maak jou versigtig. Dit laat jou die lewe mooi deurkyk
en reg lewe. Ken jy jou plek?
Ernest