Jakobus 1:19 sê dat jy nie te gou kwaad moet word nie.
En dan stel hy dit in vers 20 nog sterker:
“As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie daarop ingestel
wees om te doen wat God wil nie.”
Duideliker kan jy dit nie stel nie! Woede doof God se stem uit.
En tog word ons so baie keer woedend kwaad vir ander mense.
Ons verloor dikwels beheer oor onsself. Ook word ons impulsief
woedend oor mense wat ons nie eers ken nie. Iemand wat net
voor my indruk in die verkeer...ontgeld dit in woord, en daad,
en gedagtes. Wysheid en woede kan nie saamleef nie.
Moenie jouself bluf nie. Wees ‘n student in God se wysheid-skool.

Woede hoort eenvoudig nie tuis in wyse mense se lewe nie.
Woede moet getemper word deur God se liefde. Woede koel af
as jy deur die bril van God se liefde na ander mense kyk.
Woede bly deel van jou lewe wanneer jý sentraal staan in jou
lewe en alles net om jou draai.

Kyk, wyse mense reageer nie sommer impulsief en op die man af
op wat ander mense sê of doen nie. Hulle luister eers goed. Oordink
dit. En daarom, sê Jakobus in vers 19, word hulle nie te gou kwaad nie.
Moenie mense doodpraat of doodskree nie. Gee hulle rustig ‘n kans.
Belangriker nog: Gee die Heilige Gees kans om jou in die konteks te lei.
Gee Hom beheer! Is dit regtig die moeite werd om jou te vererg?

Spreuke 14:29 sê dat iemand wat reg leef, geduldig is.
“ ‘n Vinnige humeur rig oneindige skade aan.” Hoe waar is dit nie?
Baie mense sal sê dat hulle nou maar van geaardheid ‘n vinnige humeur
het. Dit is eenvoudig nie so nie. Dit is jou keuse. Jy erf dit nie in jou gene nie.

Deel van die vrug van die Gees is selfbeheersing. Die vraag is eenvoudig of jy
in beheer wil wees, en of jy die Heilige Gees toelaat om in beheer te wees.
Woede is ‘n vernietigende mag en kom nie van die Here af nie. Ons het nie die
reg om soos ‘n vuurspuwende berg te ontplof wanneer ons uitbars in woede nie.
Jy kan kalm wees. Jy moet kalm bly. Dit is die Here se wil. Leer dit by die Here.
Wees ‘n wyse mens wat jou humeur in toom hou. Dra die vrug van die Gees.

Ernest