DWAASHEID WYS
Dwaasheid wys. Jou lewe wys dit. Dit is sigbaar.
Selfs dit wat jy probeer wegsteek in jou dwaasheid,
is vir die Here sigbaar. Spreuke 5:21 sê:
“’n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee,
sien Hy.” Hoe is dit moontlik dat ons so kan optree asof ons
dit kan wegsteek, asof die Here nie bewus is van wat ons dink,
sê en doen nie. Daarom is dit inderdaad dwaas om dwaas op te
tree. Dit wys. Jou lewe wys dit. Vir mense, en bo alles vir die Here!
Wysheid se direkte opponent is dwaasheid. Mens kan dit baie gou
in iemand se lewe raaksien.
Kyk net hoe praat die Bybel daaroor:
Dwase mense is deurgaans aan die baklei en stry. Hulle is aggressief
en ook wraaksugtig. Spreuke 22:24 waarsku ons om uit hulle pad te bly.
Dwase mense sluit maklik ‘n kontrak of teken borg sonder om mooi
daaroor na te dink. Spreuke 22:26.
Dwase mense leef net vir geld. Hulle het net nooit genoeg nie! Hulle
lewe draai om geld en goed. Spreuke 23:4.
Dwase mense is ook vrek suinig. Spr. 23:6. Hulle deel nie met ander
mense nie. Selfs nie eers mense in nood nie.
Dwase mense luister nie na goeie raad nie. Hulle volg net eenvoudig
en eiewys hulle eie kop. Spr. 23:9.
Dwase mense gebruik nie drank met matigheid nie. Hulle drink alewig
te veel. Hulle weet nie wanneer om op te hou nie. Daarom se die
Spreuke skrywer in Spreuke 23:31-32 in Die Boodskap: “Pas maar op
vir drank. Dit lyk mooi in die glas. Lekker as dit so skuim. ‘n Mens slaan
sommer maklik ‘n hele paar doppe weg. Maar dink ook aan die nagevolge.
“Die babbelas. Die hoofpyn. Dit is soos ‘n slang wat jou pik. Soos die gif
van ‘n adder wat jou doodmaak.” Dit is baie beskrywend, en tog so waar.
Hoe dwaas kan mense hulle nie vergryp aan drank nie.
Met soveel hartseer tot gevolge...
Dwase mense laat die lewe tussen hulle vingers deurglip.
Op baie verskillende maniere. Hulle mors met die kosbare van die lewe.
Lees maar Spreuke 5 oor ongeoorloofde verhoudings. Jy kan nie weer
terugkry wat jy verspil het nie.
Onthou: Dwaasheid wys in jou lewe. Al dink jy nie so nie. Jy kan dit nie
wegsteek nie. Jy kan dit verseker nie vir die Here wegsteek nie!
Elke tree wat jy gee, is oop en bloot voor Hom. Moenie jou lewe weggooi
nie. Moenie dwaas optree nie.
Vra die wysheid wat die Here jou wil gee.
Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid,
en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud
en sonder verwyt.”
Doen dit vandag. Doen dit elke dag. Bid vir wysheid. Leef dan wysheid
uit in die praktyk van jou lewe.
Ernest