In die moeilike omstandighede waarin ons tans leef
kan ons maklik al God se goeie gawes en seën miskyk en
net fokus op die negatiewe en die hardheid van die lewe.
Daarom moet ons mekaar bemoedig met die wonderlike
gawes wat God steeds gee te midde van die harde werklikheid.
God het nie weggeraak of staan eenkant en toekyk wat met ons
gebeur nie. Leef God se seën en gawes raak wat ons elke dag uit
sy hand ontvang. Kom ons herhaal dikwels vir mekaar dit wat ons
weet God doen en dit wat ons raaksien wat van God kom.
Dit versterk ons geloof en gee meer sekerheid. Ons moet ons
doelbewus oopstel vir God se oorvloed. Dit hou net eenvoudig
nooit op nie! God is steeds die goeie God wat die beste vir sy kinders
bedoel en gee! Hy is die God van liefde. Hy gee ‘n oorvloed weg aan
almal wat in Hom glo. ‘n Oorvloed goedheid, liefde en ontferming.
So is God! Hy deel alles met ons wat sy kinders is!
Die kortsluiting lê aan ons kant. Die oomblik as dit swaar gaan, begin
ons vrae vra oor God se bedoelings, en teenwoordigheid, en goedheid.
Ons begin om sy deurlopende goeie gawes mis te kyk. Ons leef verby
sy seëninge vir ons. Ons begin geestelik armer lewe asof God sy gawes
onttrek het en selfs nou verder van ons af loop. Asof Hy nie steeds in
ons woon nie! So leef ons nie meer die lewe in die oorvloed wat God
gee ten opsigte van die lewe self nie!
Ons moet weet: God gee steeds die lewe in oorvloed aan almal wat
in Hom glo! Ons moet dit uitleef in ons omstandighede en ten spyte
van ons omstandighede.
Paulus skryf in Romeine 8 dat ons almal erfgename in God se nuwe
testament is! Ons erf al sy krag, al sy heerlikheid, al sy genade. Geen
omstandighede in die wêreld kan dit van ons wegneem of ons daarvan
skei nie. Geen! Ons erf oorvloed op oorvloed! Ons is oorwinnaars.
Ons is God se kinders. Ons is nie slawe wat in slawe kwartiere van die
wêreld bly nie. Ons is nie uitgelewer nie. Ons is Koningskinders!
Oogappels van die Allerhoogste! Dit sal vir altyd so wees! Wat ‘n lewe!
Nou reeds! Leef vry! Leef in die oorwinning!
Ernest