God vra van sy kinders om in die hardste omstandighede
van die wêreld steeds met integriteit te leef. Dit is juis dan
wanneer ons getuienis ook soveel meer werd is om God se
koninkryk te laat kom. Integriteit is ‘n werkwoord in ‘n kind
van God se lewe. Dit is ons manier van leef in die moeilikste
omstandighede. Om konsekwent God se wil te doen ten spyte
van die omstandighede. Ons sê ja en doen ja! Ons hardloop nie
weg wanneer dinge in die wêreld ons bedreig nie. Ons bied
weerstand in opregte geloof en afhanklikheid van God.
Ons gooi nie handdoek in as die omstandighede “te moeilik”
raak nie. Ons is binne daardie omstandighede verteenwoordigers
van God. Efesiërs 6:10: “Verder nog dit: Soek julle krag in die Here
en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle
gee, sodat julle op julle pos kan bly...”

Integriteit beteken ons reageer en versprei nie nuus en gerugte op
hoorsê nie. Ons neem byvoorbeeld nie in moeilike omstandighede
deel aan die golf van “fakenews” nie. Ons beveg dit met die waarheid
alleen, tot eer van God. Ons tree met integriteit op!

Kinders van God het vooraf die prys bereken wat dit sal kos om
Jesus te volg in selfs die moeilikste omstandighede. Daarom is
kinders van God mense waarop gereken kan word in die moeilikste
omstandighede. Hulle bou aan geloof. Hulle is barmhartig teenoor
hulle medemens. Hulle sluip nie stilletjies weg van hulle pos af nie.
Hulle word nie meelopers van die wêreld nie. Ons bly op ons pos!

Daarom moet ons lewens in hierdie tyd vol tekens wees van ons
gehoorsaamheid aan God. Dit begin op ons knieë. Hoeveel bid jy
in hierdie tyd van krisis vir mense in die grootste krisis van hulle lewe?
Efesiërs 6:18: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid
deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.”
Is ons net besig om op ons eie welstand en gesondheid te fokus?
Integriteit is ‘n lewe van geringheid voor God. Daarin stel jy God eerste
en jou medemens tweede. Daarom moet ons nie speletjies speel met
geloof nie. Geloof verteenwoordig God in hierdie wêreld. Oral! Altyd!

Praat jy regtig wat jy glo, of glo jy wat jy praat, wanneer jy met mense
praat oor die krisis van ons tyd? Maak jy of jy omgee en baie bid,
maar jy doen dit nie regtig nie? Sê jy te maklik: “Ek bid vir jou”?
Stuur jy gebed-handjies op sosiale media...sonder om te bid?

Dit is in die huidige omstandighede wat die grootste integriteit van
kinders van God gevra word. Ons moet leef in opregtheid en in egtheid.
Ons moet by mense dieselfde wees as wat ons in die teenwoordigheid
van God is. Niks of niemand anders nie.
Leef in hierdie tyd met integriteit, en laat God se koninkryk kom,
in die moeilikste van moeilike omstandighede.

Ernest