Psalm 8:6 is ‘n merkwaardige woord oor God en die mens:
“U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon...” God gee eer aan die mens.
Eer kom van God af om uitgeleef en uitgedeel te word. Dit gaan
daaroor om ‘n eervolle lewe te leef. God se eer staan bo alles.
God deel egter ook sy eer met mense sodat dit op aarde uitgeleef
word. Wanneer mense voor Jesus Christus buig as enigste Here,
gee God aan hulle eer. Dan moet daardie lewe eervol geleef word.
Tot eer van God uiteindelik!

Slegs as jy besef dat God jou die “ongelooflike” eer aangedoen het dat
sy Gees in jou woon, dan snap jy wat eer is en wat ‘n eervolle lewe is.
So bewys God sy eer aan jou. Ons wat eerloos is, word deur God met eer
gekroon, deurdat Hy in ons kom woon. Alle eer moet nou terugvloei na
God toe. Nooit mag jy enige eer vir jouself hou nie.

Die grootste vreugde in enige een van God se kinders se lewe is om ‘n
verskil in hierdie wêreld te maak ter wille van Hom. Al is dit hoe klein in
ander se oë, of in jou eie oë, God laat dit lewens veranderend werk in
ander se lewe. Ons moet ander mense hier op aarde “met goud aanraak”.
Watter merke laat ons op ander mense? Wanneer jy elke dag ‘n stukkie
hemelse eer van God ontvang en dit gaan uitdeel, maak jy ‘n hemelse
verskil in mense se lewe.

Baie mense sien hulself heeltyd as ‘n hamer wat ander mense soos spykers
moet inslaan... Ander mense sien hulself as ‘n verband wat wonde raaksien
van stukkende mense wat verbind moet word. Die Here wil jou leer om reg
na ander te kyk en ander mense te eer. As jy sy eer uitleef teenoor ander
mense, hurk jy by mense, en het jy vir hulle ‘n sagte en bemoedigende
woord gereed. God raak hulle aan deur jou...

Dit is wat ons so nodig het in hierdie tyd waarin ons nou leef.
Dan wag jy ook nie op mense se reaksie en erkenning nie. Jy is genees
van die alewige soeke na erkenning. Jy weet, wat jy ook al doen, jy doen dit
eintlik vir God. Al die eer wat jy gekry het om vandag uit te deel, vloei weer
terug na Hom toe. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here,
en nie vir mense nie...” – Kol. 3:23.

Ernest