Dit is nodig om genade te verstaan sodat dit waarlik
uitgeleef kan word. Die uniekheid van die kerk van
Jesus Christus lê in die boodskap van genade, van die
enigste lewende God wat sondaars verniet kom red
het toe hulle agter hulle sonde probeer skuil het.
Genade vertel van die almagtige God wat laag afgebuig
het toe Hy sy enigste Seun gegee het om aan die kruis
van Golgota vir sondaars te sterf. Jesus het elke sonde
van elke sondaar op Hom geneem om daarvoor te betaal
en jy moet nou in Hom glo as jou Verlosser en Hom volg
as Here. Jesus het voor God kom staan met almal se sonde.
Jesus het die volle lading van God se haat van die sonde op
Hom geneem. Daarvoor moes Jesus sterf, want die loon van
die sonde is die dood. Net daar, aan die kruis waar Jesus
gesterf het, het God gesê: Genoeg is nou genoeg. Daar het
genoeg bloed gevloei ter versoening van ons sonde.
Die volle straf is daar aan die kruis deur Jesus gedra.
Jesus se offer is vir eens en vir altyd genoeg. Sy bloed bedek
elkeen se sonde wat in geloof na Hom toe gaan en by Hom
gaan skuil. Elke mens wat Jesus van harte ken en dien is
skotvry verklaar!
Dit is genade, dat sondaars wat niks anders as die dood verdien
nie, by die kruis die ewige lewe as gawe van God ontvang! Dit is
genade dat mense wat hulle hele lewe lank werk vir hul ewige
beloning, naamlik die hel, die hemel ontvang! Dit is genade dat
God nooit weer terugdink aan die sondes van almal wat aan Jesus
vashou nie. Kom juig vandag oor hierdie onuitspreeklike genade
van God in jou lewe!
Efesiërs 2:1 “Ons was dood as gevolg van ons oortredings en sondes...”
Vers 4-5: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.
Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons
oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!”
Vers 8: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding
kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.”
Leef dankbaar en juig hieroor met jou hele lewe vir God!
Ernest