Genade is ‘n vreemde begrip vir ‘n wêreld wat
alles self wil verdien. Die wêreld se genade eindig
altyd by die verkeerde adres. By mense wat dit verdien.
God se genade werk anders. God se genade is vir sondaars.
Nie vir mense wat dink hulle is goed genoeg en het nie genade
nodig nie. God deel sy genade oorvloedig met mense wat so
vasgevang is in hulle verlorenheid, dat hulle weet hulle kan op
geen manier met eie goeie dade daaruit kom nie. Genade is vir
mense wat niks anders het om aan God aan te bied as net hulle
eie sonde nie. Aan sulke mense bewys God genade op genade.

Lukas 18 vertel van die tollenaar wat bid en eenvoudig net kan
uitroep; wees my asseblief genadig. Ek is ‘n armsalige sondaar.
Vir sulke mense is God se genade bedoel. Enige sweempie van
verdienste verstaan nie God se genade nie. Dit was die geval
met die Fariseër wat saam met die tollenaar in die aanbiddings-
ruimte was.

Jesus vertel juis die gelykenis met die oog op mense wat seker
was dat hulle eie saak met God reg was, en op ander mense
neergesien het. Lukas 18:13 sê: “Maar die tollenaar het daar ver
bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef
op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”
God plaas uit genade so ‘n mens se sonde op Jesus aan die kruis,
en dan dink Hy eenvoudig nooit weer daaraan nie! Dit is genade!

God oorrompel sondaars met genade! Sy genade verander mense
eenvoudig totaal. Genade is ‘n alles-veranderende hemelse krag.
Dit is ‘n tweede geboorte. Alles begin van voor af, nuut!
God het ons lewe met sy genade oorspoel. Ons is nou splinternuut!
Nuwe mense! Nuut geskep. Herskep!

Ernest