Genade is baie naby aan ons. Jy moet net daarvoor vra.
Soos iemand wat niks verdien nie, soos ‘n bedelaar,
so staan ons voor God. Niks om aan te bied nie. Net maar
om te ontvang. Hy gee dit elke keer verniet weg! Wanneer
jy die eerste keer so voor God gaan staan in bedelaars klere,
stap jy daar weg in Konings klere! Jy is ‘n begenadigde!
Maar ons het ook elke dag bewustelik genade nodig.
Ons leef totaal afhanklik van God. “Geseënd is dié wat weet
hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel.” – Matteus 5:3.
Daar kom tye wat ons die pad byster raak, tye wat ons
ongehoorsaam is aan God. Dan gaan staan ons weer voor God
met belydenis van sonde en pleit vir sy genade en vergifnis.
God huiwer nie om dit te gee nie. Jesus pleit juis net daar vir
ons by God. Hoeveel keer kan ons by God genade gaan pleit?
Is daar sonde wat te groot is om genade te pleit?
Nee, geen sonde is groter as God se genade nie! En ons pleit
nie een of twee keer nie, of sewe keer nie, maar sewentig maal
sewe keer...wat beteken oneindig baie. God is die God van genade.
Hy is in sy goedheid deurlopend betrokke by jou en Hy gee sy
goedheid deurlopend aan jou. Al moet jy vir die soveelste keer
weer om vergifnis gaan vra oor jou ongehoorsaamheid,
gaan doen dit! Jy sal jou elke keer in God se genade vasloop!
Dit is elke dag nuut en elke dag genoeg!
Gaan leef dan, as begenadigde van God, elke dag ook genade uit
teenoor jou medemens. Moenie die verkeerde dinge wat mense
doen teen hulle hou nie. As God hulle kan vergewe en inderdaad
vergewe, hoe kan jy ‘n wrok teen hulle bly dra?
Maak die boekhouding van die verlede toe.
“God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons
geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons
bestem het.” – Ef. 2:10. Ons leef in die greep van God se genade.
Beleef dit en deel dit uit!
Ernest